Die veldtog het op Maandag, 29 April by die Juweeltjie Créche in KwaNonqaba afgeskop toe dr Helise Schmann die eerste polio inentingsdruppeltjies toegedien het.
Die Wes-Kaap Regering verskaf hierdie immunisasie gratis aan kinders. Ouers word aangemoedig om hulle kinders vir die immuniserings te bring.
Masels
Masels is 'n baie gevaarlike siekte. Tipiese simptome is hoë koors wat deur 'n rooi opgehewe uitslag oor die hele lyfie gevolg word. Dit gaan ook gepaard met hoes, 'n loop neus en rooi oë. Masels kan gevaarlike komplikasies tot gevolg hê, soos longinfeksies, blindheid en selfs die dood.
Masels word veroorsaak deur 'n klein virus bekend as die masels-virus en kan nie met die blote oog gesien word nie. Dit word versprei as 'n kind met masels hoes of nies. Kinders wat dit eenmaal gehad het, kan dit nie weer kry nie. Meeste kinders wat op die regte ouderdomme geïmmuniseer word, sal nie masels kry nie.
Polio
Polio is 'n verlammende siekte. Dit word veroorsaak deur 'n baie klein kiem wat die polio-virus genoem word.
Polio kan lei tot permanente verlamming, gebreke en selfs die dood. Die simptome van polio is 'n skielike lamheid in 'n ledemaat of ander dele van die liggaam. Die lamheid sou nie tydens geboorte daar gewees het nie. Indien die person beseer is of 'n geskiedenis van geestesversteuring het, is dit onwaarskynlikheid dat die simptome polio kan wees.
Navrae oor die projek kan by Nadia Ferreira by 044 803 2725 gedoen word.

Gesondheidswerkers en personeel van Juweeltjie Créche saam met dr Schumann tydens die afskop van die immunisasie veldtog.Foto:Tersia Marais
ARTIKEL: TERSIA MARAIS