Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Baie kan by Mosselbaaier, Elsa Müller (80) geleer word van ware en opregte liefde vir 'n troeteldier.
Die Mossel Bay Advertiser het verlede week oor 'n sementbankie met 'n gedenkplaat vir 'n hond, ene Pietie Müller berig.
Die Advertiser het nie die storie agter die gedenkplaat, wat by ‘n kwekery naby die Hawe opgerig is geken nie, en danksy die artikel het Elsa en die einste hond waarvan daar ‘n foto op die plaatjie is, Pietie, die afgelope week by die Advertiser aangeklop.
Elsa het die gedenkplaat vir Pietie teen die bankie opgerig en die sitplek aan die kwekery geskenk.
Sy het vir Pietie vyf jaar gelede by die plaaslike DBV op Mosselbaai gekry. "Dit is vyf jaar van dankbaarheid teenoor hierdie dier. Sy geaardheid is pragtig en hy beteken so baie vir my," sê Elsa.
Hondemaat
Elsa en haar man, Anton (84) het vir jare geboer en het altyd bokserhonde gehad. Toe hulle jare gelede dorp toe trek het Elsa na 'n hondemaat verlang.
Sy het boonop 'n tragiese verhaal van haar twee seuns wat saam in Secunda verdrink het toe hulle onderskeidelik nege en vyftien jaar oud was. Haar negejarige seun was deel van 'n tweeling en sy tweelingsuster, wat 52 jaar oud is woon tans in die kaap.
"Die sielkundiges praat van verplaasde liefde. Ek het twee seuns gehad wat ek nie meer het nie. Dit is partykeer vir my skrikwekkend hoe lief ek vir die hond is."
VIDEO - Liefde vir hond voorwaar onbeskryflik (Video: Verskaf).
Sy sê Pietie sorg dat sy elke dag na die kwekery stap, behalwe op Sondae. "Hy sorg dat ek uit die huis kom en hy sorg dat ek mobiel bly. As ek nie elke dag kwekery toe stap nie, sit en staar hy vir my tot ek dit nie meer kan hou nie."
Testament
Pietie het 'n hele bladsy in Elsa se testament. "Sou ek voor Pietie doodgaan, is my opdrag dat hy na Elsie Badenhorst wat ‘n hondesalon op Mosselbaai het, moet gaan. Slegs een veearts mag hom behandel en dit is Stelouise Lourens."
Elsa vertel sy het Elsie ontmoet toe sy vir Pietie soontoe gevat het vir 'n bad en 'n skeer kort nadat sy hom destyds by die DBV gaan haal het. Pietie is half-Toypom en volgens alle aanduidings is hy ongeveer 10 jaar oud. Hy is in Marshstraat opgetel en niemand weet waar vandaan hy oorspronklik kom nie.
“Pietie en ek het 'n nis by 'n begrafplaas by Buffelsjag naby Heidelberg. My pa het destyds die grond aan die kerk geskenk en my broer, asook my twee seuns is daar begrawe. Pietie se as moet saam met myne begrawe word."
Elsa sê vir nou geniet sy net haar liewe Pietie en is die bankie by die kwekery daar vir die dag wanneer sy en Pietie nie meer lewe nie. "Dan is daar minstens 'n herinnering van ons."
Elsa het die gedenkplaat vir Pietie teen die bankie opgerig en die sitplek aan die kwekery geskenk.
Vorige artikel:Plaatjie vir hond fassineer
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'