Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die Mosselbaaise-kiesafdelingshoof van die ANC, LUR Pierre Uys, het sy kommer uitgespreek met die vordering van die streekstortingsterrein wat in Mosselbaai neffens PetroSA tot stand moet kom en spesifiek die kompleksiteit van die finansiering daarvan as problematies beskryf.
"Daar is heelwat vrae waarop antwoorde ontbreek. Die oorsigkomitee het nie bevredigende antwoorde gekry op vrae oor presies wie die betrokke rolspelers in dié proses is nie; wie is die onafhanklike vennoot met wie nou steeds nog onderhandel moet word terwyl die kontrak met PetroSA vir die storting van vullis op hul terrein einde vanjaar ten einde loop?
"Dis bekommeringswaardig dat onderhandelinge en goedkeurings nie afgehandel sal wees teen die tyd wat die huidige gebruiksooreenkoms met PetroSA einde vanjaar verstryk nie. Sou die onderhandelinge met die kontrakteur teen einde November afgehandel wees, sal aansoeke om 'n lening eers daarná kan volg. Dit is duidelik dat die spertyd vir die gebruik van PetroSA se fasiliteit nie gehaal sal kan word nie; waarskynlik sal met PetroSA onderhandel moet word vir gebruiksvergunning van nóg 'n jaar; selfs twee jaar.
"Dit blyk daar is nog nie eens by óf die provinsiale, óf die nasionale tesourie aansoek gedoen vir finansiële goedkeuring nie. Daar is ook wesentlike vrae oor die administrasiefooi wat gehef gaan word. Die administrasiefooi sal 10% beloop, maar niemand kon antwoord nie: 10% op wat? Die oorsigkomitee verwag 'n memorandum in hierdie verband.
"Dit is 'n ernstige kommer dat slegs vier van die sewe betrokke munisipaliteite sal deel in die streekstortingsterrein. Die koste gaan 'n wesentlike impak op belastingbetalers hê met verhoogde tariewe wat vir die volgende drie tot vyf jaar sal geld.
"Om van die stortingsterrein gebruik te maak, gaan 'n negatiewe uitwerking op die padvervoerinfrastruktuur hê, om van besoedeling nie eens te praat nie."
LUR Uys sê verder wat hom veral bekommer is dat die internasionale tendens juis weg neig van massastortingsterreine. "Verbruikers behoort eerder aangemoedig word om afval self te verminder, te herwin of te hergebruik."
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'