Video
MOSSELBAAI NUUS - Om 'n saadjie so groot soos 'n R5-stuk te versorg tot 'n sprokiesagtige koetspampoen van meer as 800kg, is net te danke aan 'n liefde vir plante.
Hierdie liefde vir plante het in Willem le Grange se kinderjare begin toe sy ouers op 'n plaas buite Lydenburg geboer het.
Met 'n lang loopbaan in die vrugtebedryf en verskeie plase waar hy gewerk het, word hy aangestel as plaasbestuurder in die Ruiterbos-omgewing. Hier, op 'n klein stukkie van die plaas sit hy sy stokperdjie wat jare gelede begin het, voort.
Met drie sade wat hy vir $40 uit die VSA ingevoer het, begin hy om die Atlantic Gaint Pumpkin-variëteit in sy tuin te kweek.
Maar dit behels veel meer toewyding as bloot net 'n gaatjie in die grond grawe, die saadjie insit, toemaak en water gee. Nee, hierdie pampoene word soos 'n babatjie opgepas en versorg. Le Grange was twee jaar gelede vierde tydens 'n kompetisie met 'n pampoen van 435kg.
Hy vertel dat buiten sy gewone werk, staan hy naweke en in sy vrye tyd vroeg op en versorg die pampoene waarvan hy tans vyf in die tuin het.
Kyk 'n video hieronder:
So tussen die vyf pampoene met 'n gesamentlike gewig van ongeveer 2 874kg, staan een uit as die pampoen onder die pampoene.
Hy vertel ook hoe hy die vroulike blom die vorige aand versigtig toemaak sodat bye nie daarop gaan sit nie en dit dan vroeg die volgende oggend met die stuifmeel van die manlike blom bevrug.
Liefde, kunsmis en water gee, terwyl goggas en ystervarke weggehou word, die regte stamboom en siedaar, Aspoestertjie sou wat wou gee vir só 'n pampoenkoets.
Met die huidige wêreldrekord van 1 191,5kg en die Suid-Afrikaanse rekord van 860kg, is Le Grange baie opgewonde oor die kompetisie wat einde van die maand in Heidelberg plaasvind.
Met Covid-19 wat die fees so bietjie omvergewerp het, gaan pampoenkwekers net inweeg waarna die wenners bepaal sal word.
"Die kompetisie is sterk en die manne betaal baie geld vir ingevoerde sade van lande soos België, Spanje en die VSA," vertel Le Grange.
Sommige lap nie hulle groeigeheime uit nie. Ander gebruik allerhande brousels of vismeel om pampoene tot die maksimum te laat groei.
So 'n pampoen, wat 'n sekere tydperk in sy groeiproses tot 25kg per dag kan aansit, word hoofsaaklik gebruik vir die pitte. Volgens die kenners is die pampoen eetbaar, maar waterig. En soos enige familie het elke pit 'n stamboom en met kruisbestuiwing, kan mens skaars glo hoe die pampoene jaarliks al hoe groter en groter word en rekords gereeld verbeter word.
Van saad so groot soos 'n R5-stuk tot 'n pampoen van meer as 800kg. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'