MOSSELBAAI NUUS - 'n Gewapende rower wat 'n gesin in Nyibibastraat, KwaNonqaba beroof het, is danksy die KwaNonqaba-polisie en die opsporingspan blitsig aangekeer en positief met die misdaad verbind.
'n Gewapende man het omstreeks 21:15 op Dinsdagaand, 15 Mei 'n gesin in Nyibibastraat probeer beroof. Terwyl die pa in die slaapkamer was, het die ma en kind gesit en TV kyk toe die rower toeslaan.
Die pa het uit die slaapkamer gekom en die rower in sy huis opgemerk. Hy het met 'n hamer die wapen uit die rower se hand geslaan. Nogtans het die rower met 'n selfoon ontsnap en van die toneel weggehardloop.
Die KwaNonqaba-polisie is gekontak, wat die wapen in die huis opgespoor het. Dit blyk toe die wapen was 'n gaspistool.
Onder bevel van ao Geoffery Moos van die KwaNonqaba-polisie se ondersoekeenheid is die opsporingspan geaktiveer en is die verdagte Woensdagoggend omstreeks 08:00 opgespoor en in hegtenis geneem. Die verdagte is intussen positief met die misdaad verbind en sal binnekort in die Mosselbaaise-landdroshof verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'