Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Roger Esau se huis in Dial Brandstraat, Uitbreiding 6 lok mense nader. Of hulle nou verbystap of -ry, gebeur dit selde dat die kleurvolle muurskildery op die muurtjie voor die huis en die geverfde klippe mense nie twee keer laat kyk nie.
Van sy kinderdae af is hy al doenig met die verfkwas. Sy broer is ook 'n kunstenaar en sy ma het haar kinders getrou aangemoedig om hulle kunstalent te ontwikkel, vertel hy.
Roger en sy gesin is nou ses jaar in Mosselbaai. Sy vrou se wortels lê hier. Hulle het in die pragdorpie Darling gebly, maar toe neem dwelmhandelaars hulle intrek in die omgewing waar die gesin se huis was. Dit het hulle laat besluit om 'n meer heilsame omgewing te gaan soek.
Roger het kuns studeer in die Paarl, maar voorheen nooit die gesloofstap geneem om hom voltyds daarop toe te lê soos nou nie, maar hy voel sy tyd het nou gekom. "Dit was 'n groot besluit vir my," antwoord hy doodeerlik op sy kleurvolle stoep, ook beskilder.
Van sy werk, is reeds in Mosselbaai te siene soos by Erika Primêre Skool. Hy wil graag by ander skole ook betrokke raak om die fasiliteite met muurskilderye te tooi. Sy kinders het ook moue opgerol en help graag saam skilder, soos by Erika Primêr. Hy verf graag tonele uit die alledaagse lewe vertel hy terwyl hy beduie na 'n kleurvolle skildery van Aslapark. "Ek hou van my huisies en my plasies."
Buiten die gemeenskapslewe, inspireer seetonele kom ook en vind dit gereeld gestalte in sy werk.
Roger meen alles is sy skilderdoek. "Ek is baie lief daarvoor om op mure en klippe te skilder. Ek wil my merk maak hier in Mosselbaai."
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'