MOSSELBAAI NUUS - Na drie propvol jare sedert sy die vokale kategorie van Mossel Bay’s Got Talent (MBGT) sommer met die eersre probeerslag gewen het, het Davene Anderson ‘n welverdiende draai op die kassie gemaak.
Tans ‘n eerstejaar-regstudent aan die Universiteit van die Wes-Kaap, het haar jaar sommer op ‘n hoë noot begin toe sy deelgeneem het aan opnames vir Maak My Famous 2, die nimlike Emo Adams se talentsoektogprogram op kykNET.
Vele talente
Davene het al ‘n paar prestasies op haar kerfstok. Sy was hoofleier in haar matriekjaar by Hoërskool Sao Bras en het gedien as munisipale bestuurder op die junior stadsraad. Sy is ‘n slimkop, ‘n top redenaar en was ook ‘n uitruilstudent in Duitsland.
Davene is sedert haar wen van MBGT ‘n gereelde gesig op verhoë in Mosselbaai, danksy die mentorskap van Lenise Hendricks. Dit is juis hoe sy op Maak My Famous beland het, verduidelik Davene.
"Juffrou Nisa, het net eendag gesê, ‘Nee man Davene, ek lus vir 'n lekker show. Kom ons skryf jou in vir Maak My Famous’. Nadat ek toe met my ouers gepraat het en hulle die go ahead gegee het, het ons ‘n video ingestuur."
Lenise vertel dat sy Davene op 16-jarige ouderdom by Hoërskool Sao Bras raakgesien het. “Haar pligsgetrouheid het my beïndruk. Sy pak alles met oorgawe aan omdat sy uiters gedissiplineerd en hardwerkend is, én goed deur haar ouers ondersteun word.”
Agter die skerms
Lenise vertel met trots hoe die Maak My Famous-oudisie wat hulle sommer in haar “bo-kamer oogeneem het toe wraggies die grootskerm gehaal het”.
Oor haar ervaring op stel, vertel Davene hoe sy die kykie agter die skerms geniet het.
Dit is egter nie haar eerste keer op die kassie nie, aangesien sy voorheen ook deel was van die driemanskap wat Hoërskool Sao Bras op die skoleprogram, Die Superskool aangebied deur Snotkop, verteenwoordig het.
Op Maak My Famous het sy ook skouers geskuur met Tarryn Lamb, Alistair Izobel, Nur Abrahams en Rushney Ferguson.
Een van haar groot uitdagings tydens verfilming sê sy, was toe sy moes aanleer om op die verhoog rond te dans vanweë die ritmiese liedjie wat sy moes sing. “Dit was nou 'n gesukkel.” Een van die lekkerste ervarings vertel sy, was toe die die deelnemers in 'n restaurant bymekaargekom het en saam begin sing het. “Dit was nou ‘n lekker jam session."
Sy hoop dat sy deur haar deelname aan die program meer sal blootstelling kry. "Ek't geleer dat dit nie altyd die wen is wat saak maak nie, maar dat jy elke oomblik moet geniet en die beste van die geleentheid moet maak."
Sy meen haar wen van MBGT het haar pad oopgemaak. "Dit het gelei tot meer optredes. Boonop het ek het daardeur meer geleer oor musiek en hoe om my stem te gebruik."
Davene het al opgetree as lid van drie orkeste. Tans is sy deel van G Minor. Mosselbaaiers sal haar ook ken as deel van DMA, saam met Megan Fillies en Alicia van Wyk. "Megan en Alicia het my geleer hoe om in stemme te sing en hoe om ‘n song my eie te maak." Die groep neem tans ‘n breek vanweë die Covid-19-pandemie.
Covid-19
"Covid-19 het regtig ons almal se lewens op hold gesit, maar in plaas daarvan om op die negatiewe effek daarvan te fokus, is daar positiewes soos dat gesinne meer tyd saam kan spandeer. Dit is so bietjie frustrerend, maar dis belangrik om te onthou dat dinge weer sal regkom. Al wat ons net nou moet doen is om die lockdown reëls te volg en geduldig te wees.”
Davene sê dat musiek vir altyd haar gunsteling stokperdjie sal bly. “Dis deel van my lewe.” Maar haar studies, kry duidelik voorkeur. “Ek wil klaar studeer, my meestersgraad doen en dan gaan praktiseer."
Dit is maar moeilik om tans op ‘n studierooster gefokus te bly te midde van al die afleidings bieg Davene. "Think with the end in mind. Ek hou dit maar heeltyd in gedagte."
En die laaste woord, behoort aan Juff Nisa. "Dit was maklik om hierdie jongmeisie te mentor. Sy het geluister en getrou gedoen. Ek is so trots op haar."
• Maak My Famous word Woensdae om 20:00 op kykNET uitgesaai.
So lyk Davene Anderson se publisiteitsfoto op Emo Adams se talentsoektogprogram, Maak My Famous 2.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'