Mnr Kleyn het verlede Saterdagoggend saam met sy dogter Loumari (10) en seun Jean (12) branderplank gery. Hy het sy bakkiesleutels en hul handdoeke op 'n hopie op die strand gegooi.
"Die handdoek was helder oranje en ek kon dit heeltyd sien vanwaar ons geswem het." Teen 11:30 was die handdoek skielik skoonveld.
Hy het na sy bakkie gehardloop en gesien die deure is oopgesluit. Binne op die sitplek het sy oranje handdoek gelê, en 'n onbekende Ferrari horlosie. Sy selfoon was nog daar, maar kontant wat hy in die bakkie gehou het, 'n verkyker en sy bankkaarte is gesteel.
Inwoners by wie mnr Kleyn gaan aanklop het, het twee verdagte vroue wat deur drie kinders, waaronder 'n baba, vergesel is, in die omgewing gesien hardloop.
"Ek het gelukkig spaarsleutels in my bakkie en het dadelik my bankkaarte gaan stop."
Mnr Kleyn en sy vrou het daarna by die Langeberg Mall rondgery, in die hoop om die verdagtes te sien. Dit het vir hom sin gemaak dat die verdagtes die gesteelde geld by die naaste winkelsentrum sou wou spandeer.
Naby McDonald's, onder 'n boom het hy 'n vrou gesien wat met 'n verkyker rondkyk. Nadat die hulp van sekuriteitswagte ingeroep is, het mnr Kleyn saam met die sekuriteitswagte die vrou ondervra.
Dit wás toe sy verkyker en sy bestuurderslisensie is in haar besit gevind.
Die verdagte het die diefstal erken. "Ek is dankbaar dat ek my besittings terug gekry het."
Lede van die Da Gamaskop SAPD het een verdagte in hegtenis geneem wat intussen in die Mosselbaai Landdroshof verskyn het.

Mnr Paul Kleyn
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'