MOSSELBAAI NUUS - Thys & Trix, 'n skaterlag aksiekomedie met glanspaartjie Leandie du Randt Bosch en Bouwer Bosch in die hoofrolle word tans in Mosselbaai verfilm.
Die film is uit dieselfde stal as die trefferflieks Vir die Voëls en Ballade vir ’n Enkeling met vervaardigers The Film Factory en onder regie van die bekroonde Quentin Krog.
Thys (Bosch) en Trix (Du Randt) is broer en suster en ook ywerige maar onbeholpe polisiemanne. Thys is ’n bedagsame knoeier en Trix ’n ongeskikte, sexy rabbedoe. Hulle onderlangse twis en die feit dat hulle van kleins af sukkel om saam as ’n span te werk, veroorsaak dat hulle geskors word nadat hulle die polisiediens een keer té veel in die verleentheid stel.
Die twee word egter betrek by 'n ondersoek na die bedrywighede van 'n misdaad-sindikaat in 'n hoogs-onwaarskynlike plek, 'n eksklusiewe gholflandgoed buite Mosselbaai.
Trix besef dit is haar laaste kans om haarself as ’n bekwame polisiebeampte te bewys. Thys weet dit is sy laaste kans om die moeilike verhouding met sy suster te red, maar die feit dat hulle moet voorgee om ’n getroude paartjie te wees om die ondersoek geloofwaardig te maak, bemoeilik die situasie, dikwels met onverwagse, verreikende en skreeusnaakse gevolge.
Kragpaar Chandré en haar katelknapie André, gay-kunshandelaars Stephán en Gérhard, hippie-swingers Ben en June en die lieflike jong weduwee Heidi, is Thys, Trix en Solomons se nuwe bure.
Hierdie groepie kleurvolle karakters van Pelican Close in Pinnacle Point is glad nie wat ’n mens sal verwag van luukse landgoed bewoners nie, maar is enige van hulle moontlik betrokke by die vervaardiging en verspreiding van MTHC (‘n kombinasie van Mandrax en Tetrahydrocannabinol), ’n verlammende hallusineringsmiddel?
Thys & Trix word landswyd op 13 April 2018 deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.
* Bron: www.filmfactory.co.za
Die rolverdeling van Thys & Trix, 'n nuwe rolprent wat in Mosselbaai by Pinnacle Point verfilm word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'