Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Suid-Afrika se nasionale 16 dae veldtog teen geweld teen vroue en kinders vir 2022 het op Saterdag, 10 Desember tot 'n einde gekom.
Verskeie aktiviste, belangegroepe en kinders van plaaslike kleuterskole het op Donderdag, 8 Desember aan 'n optog in Sonskynvallei deelgeneem as deel van dié aktivisme-veldtog.
FOTOGALERY: ACVV se aktivisme-veldtog
Dit volg ná die inhegtenisname sowat 'n maand gelede van 'n 51-jarige man wat in Sonskynvallei woon en werk en wat daarvan aangekla word dat hy ten minste drie agtjarige meisies na bewering seksueel aangerand het. Die ACVV Mosselbaai het die optog gereël om die gemeenskap te inspireer en bewus te maak dat kindermishandeling nooit mag plaasvind nie. Daniele Jantjies, hulp-maatskaplike werker wat in die gemeenskap self werk: "Ons mag nie stilbly nie. Mense moet weet dat hulle uit die donker kan kom. Ons is hier om te help."
Volgens Jackie Pedro van Concerned Woman of Mossel Bay, sal 'n kind se gedrag wys of daar fout is. "Luister na 'n kind wat vir jou iets wil vertel. Moet dit nie net afmaak nie. Hou jou oë en ore oop as jy vermoed iets is nie reg nie en meld dit aan by instansies soos die ACVV."
Craigon-Lee Keffers is 'n maatskaplike werker wat al nege maande in die Sonskynvallei-gemeenskap, werk. Hy voel dat bewusmakingsveldtogte wel 'n verskil maak. "Hier is baie grootmense wat vandag saam met die kinders gestap het en wat wys dat ouers ook ernstig is om die mishandeling van kinders te stop. Die grootste probleem in die gemeenskap is alkoholmisbruik wat lei tot gesinsgeweld wat weer die emosionele en fisiese mishandeling van vroue en kinders tot gevolg het.
"Die mense moet besef dat ons as die ACVV ernstig is om mishandeling van enige aard te stop."
Lede van die gemeenskap voor die stortingsterrein in Sonskynvallei waar die beskuldigde gewerk het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'