MOSSELBAAI NUUS - Vra die meeste outeurs en hulle sal onomwonde antwoord dat om 'n boek te skryf nie net 'n reusetaak is nie, maar dat die publikasie daarvan 'n besonderse prestasie is. Des te meer op die ouderdom van 81.
Louis Fourie, 'n afgetrede pastoor van Mosselbaai, het nou so 'n prestasie op sy kerfstok.
Fourie het sy boek, beskikbaar in beide Engels en Afrikaans, verlede Sondag by die Braambos-bedieing bekendgestel.
Weggeruk tot in die Derde hemel/Caught up into the third Heaven handel oor Paulus se bonatuurlike ontmoeting met God op die pad na Damaskus wat hom van Jesus Christus se grootste vyand na die mees toegewyde apostel laat verander het.
"Paulus beskryf hierdie onvergeetlike dag in Handelinge 9 en 14 jaar later verwys hy in 2 Korintiërs 12:1-4 na sy bonatuurlike ondervinding in die hoogste hemele, waar God self aan hom geheime openbaringe bekendgemaak het," verduidelik Fourie.
Fourie sê dat hy jare gelede reeds 'n boek probeer skryf het, maar dat dit net nie wou vlot nie.
Na 'n hartomleiding verlede jaar in Mei 2016, het hy tydens die eerste halfuur na sy operasie in die intensiewe sorgeenheid, soos hy dit beskryf "'n tasbare ondervinding met God gehad".
"Ek het na ongeveer 10 jaar gelede ook 'n openbaring van God gehad, maar dit nooit op die vlak verstaan soos wat ek dit nou verstaan nie."
Na sy ervaring in die intensiewe sorgeenheid, was sy begeerte om hieroor te skryf, intens. So gou as wat sy herstelproses dit toegelaat het, het hy agter die rekenaar ingeskuif.
"Ek het soggens van 07:00 tot saans na die soapies gesit en skryf," lag hy, terwyl sy getroue ondersteuner, sy vrou Joey baie koppies koffie aangedra het.
Hy erken egter met 'n glimlag dat hy 'n paar keer spyt gekry het dat hy die groot taak aangepak het, maar 'n jaar sedert Augustus 2016, het die twee boeke die lig gesien.
Wat verder noemenswaardig is, is dat Fourie die Afrikaanse weergawe ook self behartig het.
"Ek het eers die Engelse weergawe voltooi."
Omdat hy nie uit die aard van die boek wou hê dat enige betekenis verlore gaan of verander word nie, het hy self die vertaling na Afrikaans behartig.
"Die boek is geskik vir enige leser ongeag waar hulle op hul geestelike reis is."
Fourie se dogter Tasha Stark sê dat hulle baie trots is op haar pa se besonderse prestasie.
Fourie, wat sedert sy jeugdae 'n groot belangstelling in die geneeskunde getoon het, het op 75-jarige ouderdom as 'n naturopaat gekwalifiseer en het vir 'n tyd 'n praktyk in natuurlike geneeskunde behartig.
Vir meer oor die boek en die skrywer, kontak Louis Fourie (082 376 2008) of stuur e-pos na louisjoy78@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'