MOSSELBAAI NUUS - Die onverskrokke optrede van 'n Mosselbaaise vrou het op Donderdag, 10 Augustus daartoe gelei dat 'n 80-jarige man wat 'n 13-jarige meisie na bewering seksueel aangerand het, dieselfde dag nog in hegtenis geneem is.
Die voorval het in die man se voertuig op die parkeerterrein by die Punt plaasgevind.
Volgens 'n polisiewoordvoerder het die vrou ten tye van die voorval met konstruksiewerkers gestaan en gesels toe sy die beweerde misdaad aanskou het. Die bejaarde man se voertuig was langs die konstruksieterrein naby 'n roomysstalletjie geparkeer.
Die man het glo ná die voorval geld in die meisie se hand gestop. Sy het na die roomysstalletjie gestap om 'n roomys te koop, waarna die vrou haar voorgekeer het.
Die vrou het die meisie na haar ma se telefoonnommer gevra, en haar ook gevra hoekom sy toelaat dat die man aan haar vat. Volgens betroubare bronne was die meisie se antwoord dat sy nie wil hê die man aan haar moet vat nie, en dat sy vir hom "nee" sê. Die ooggetuie het die slagoffer se ma, en ook die polisie gekontak.
Nadat beamptes van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld- kinderbeskerming en seksuele misdrywe verklarings geneem het, is die 80-jarige inwoner van Rheebok, Groot-Brakrivier, in hegtenis geneem op 'n aanklag van seksuele aanranding.
Die verdagte is glo bevriend met die slagoffer se ma.
Moenie stilbly nie
Volgens 'n maatskaplike werker, kapt Jackie Rezant, gebeur dit dikwels dat mense verkies om sulke voorvalle te ignoreer. "Indien jy iets aanskou wat verkeerd is en iets sien wat nie vir jou reg voel nie, is dit belangrik om die voorval by die polisie aan te meld. Jy kan 'n kind se hele lewe verander, indien jy dit nie doen nie."
Volgens kapt Rezant wil mense dikwels nie betrokke raak nie, omdat hulle bang is om in die hof te verskyn en nie deel wil raak van die proses nie.
"Seksuele misdrywe word nie aan geld en kleur gekoppel nie. Dit kan met jou kind ook gebeur. Ons kan nie meer net ons rûe draai en maak asof ons nie weet wat aangaan nie. Ons dryf verskeie projekte soos byvoorbeeld Vrouemaand maar steeds eskaleer hierdie tipe voorvalle. Hoekom? Êrens doen ons iets verkeerd. Dit is tyd dat mense praat, en uitpraat oor wat in hulle omgewing gebeur."
Volgens kapt Rezant is dit belangrik dat wanneer 'n kind inligting oor seksuele misbruik deurgee, volwassenes nie met dié weergawe moet inmeng nie. "Vertel dit wat die slagoffer sê net so aan die polisie oor. Anders sukkel die kind om in 'n hof te getuig, omdat die kind skielik 'groot' woorde aangeleer het."
Dit is volgens wet verpligtend dat enigiemand wat kennis dra van 'n seksuele oortreding waarby 'n kind of 'n verstandelik gestremde persoon betrokke is, om dit onverwyld by 'n polisiebeampte aan te meld. Versuim om dit te doen, is onwettig en 'n persoon wat hieraan skuldig bevind word, kan tot vyf jaar tronkstraf opgelê word.
Dit is glo nie die eerste keer wat die verdagte die meisie seksueel aanrand nie. Die verdagte het op Vrydag, 11 Augustus in die Mosselbaai-landdroshof verskyn en is op borgtog vrygelaat. Die verdagte verskyn weer op 20 September in die Mosselbaai-landdroshof.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'