Update
GROOT BRAKRIVIER NUUS - 'n Twee-en-twintigjarige man het op Dinsdag, 12 Maart, in die landdroshof op Groot-Brakrivier verskyn op 'n aanklag van verkragting.
Die verdagte is die week vantevore in hegtenis geneem nadat die polisie van die voorval waarby 'n agtjarige meisie betrokke is, te hore gekom het.
Volgens polisiewoordvoerder, sers Laurianne Botha het lede van die gemeenskap met die polisie oor die beweerde misdryf gepraat.
"Ons het die beweringe ondersoek en die slagoffer is by die plaaslike laerskool opgespoor. Dit blyk dat die voorval na bewering reeds op 1 Maart plaasgevind het."
Botha sê die slagoffer se ouers het op die betrokke aand by vriende gekuier ongeveer twee huise verder.
"Die verdagte het die slagoffer gevra om saam met hom te stap en haar na 'n ander gebied op Wolwedans geneem. Daar het hy sy gulp losgemaak en haar beveel om vir hom orale seks te gee. Hy het ook vir haar geld aangebied."
Twee mans wat in die gebied gestap het, het op die toneel afgekom en die verdagte begin aanrand waarna die slagoffer daarin kon slaag om te ontsnap.
Die verdagte is op vryborg vrygelaat en moet weer op 19 Maart in die hof verskyn.
Lees 'n vorige artikel hier: Verkragting van 8-jarige ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'