GENERAL NEWS - Die KleuterZone bedrogspul is tans groot nuus.
Vars in ons geheue is die kleurryke advertensies op TV met gelukkige kleuters en ‘n klompie bekende TV-, veral sepiesterre, wat die projek adverteer - in sekere gevalle sonder hul metewete.
Hierdie KleuterZone-advertensies het gepaard gegaan met advertensies vir beleggings, met uitsonderlike hoë opbrengste.
Die beleggers in KleuterZone was natuurlik hoogs teleurgesteld en vele van hulle het groot hoeveelhede geld verloor.
Viviers Brokers-slenter
Onlangs in die nuus is daar berig oor die Viviers Brokers-slenter. In hierdie geval het swendelaars ‘n webwerf geskep in die naam van Viviers Brokers en beleggings met buitengewone opbrengste geadverteer.
Die webwerf het die naam en besonderhede van ‘n opreg geregistreerde maatskappy genaamd Viviers Brokers misbruik.
Die swendelaars agter die vals ‘Viviers Brokers’, met natuurlik vals telefoonnommers, bank besonderhede, ens., het groot beleggings ontvang. Natuurlik met geen opbrengste nie en toe hulle agterkom hulle is gevang met ‘n slenter is dit te laat.
Een belegger het R1,4 miljoen verloor. ‘n Ander een blykbaar R1,5 miljoen en ‘n bejaarde slagoffer van Krugersdorp is R750 000 kwyt.
Die swendelaars agter die Viviers Brokers-slenter het in hierdie geval baie gebaat by die goeie naam wat die ware Viviers Brokers oor baie jare opgebou het.
Soos gesien kan word in bogenoemde twee gvalle word voornemende beleggers oorreed en oortuig deur bekende en gerespekteerde persone en maatskappye wat sonder hul metewete misbruik word deur vals advertensies.
Vele sulke gevalle is vars in ons geheue, dink maar aan Francois Pienaar en Victor Matfield wie se foto’s ook al in die verlede so misbruik is, asof hulle die swendel belegging sou ondersteun.
AfriRykdom X-slenter
Nuut is AfriRykdom X, waar Elon Musk kwansuis Afrikaners wil verryk. Die advertensie lui dat beleggers met ‘n beleggingsbedrag van R4 500 tot R58 000 per week kan verdien.
In hierdie geval word Afrikaners geteiken aangesien hoofsaaklik Netwerk 24 intekenare (meestal Afrikaanssprekendes) op hierdie belegging geregtig is.
Daar word ook genoem, omdat slegs Afrikaners hierby kan baat, die regering kwansuis die bekendmaking en openbare advertering van AfriRykdom X sterk onderdruk.
In advertensies en bemarking van AfriRykdom X word Elon Musk betrek om Afrikaanssprekende mense te probeer oortuig om te belê en dan natuurlik te help met sy groot rykdomme.
In die vervaardiging van sulke advertensies word kunsmatige intelligensie grootliks gebruik om oortuigende videos te maak.
Alhoewel AfriRykdom X ‘n nuwe slenter is waar gewetenlose swendelaars probeer om die publiek uit hul swaar verdiende geld te bedrieg, bly die resep vir hierdie tipe swendelary maar dieselfde. Wees baie versigtig!
Wenke om jouself te beskerm teen beleggings bedrogspulle:
a) Wees baie skepties vir enige beleggings wat uitsonderlike hoë opbrengste belowe.
b) Wees versigtig indien bekende persone of instansies die skema kwansuis ondersteun.
c) Verifieer die wettigheid van die skema. Selfs ‘n paar eevoudige soektogte op Google kan help in hierdie geval.
d) Pasop vir skemas wat uitsluitlik op sosiale media geadverteer en versprei word.
e)Moet nooit jou persoonlike en finansiële inligting op sosiale media of telefonies aan enige party gee wat jy nie ten volle vertrou nie.
Prof Rossouw von Solms is ‘n emeritus professor en lid van die Sentrum vir Navorsing in Inligting en Kubersekerheid aan die Nelson Mandela Universiteit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’