Op 1 Oktober het Mike Fourie en die broers Jacques en Ig van Tonder die nuwe eienaars van die Danabaai OK Grocer geword en saam het hulle groot planne vir hierdie suksesvolle besigheid.
"Ons woon hier, daarom wil ons net die beste aan ons bure bied," sê Mike. Jacques en Ig is Magda Gericke van MLA Eiendomme se seuns.
Met Mike as bestuurder het hierdie winkel reeds in 2010 met die nasionale eer as OK Grocer van die Jaar weggeloop, en in 2011 was hulle weer een van die finaliste. Mike se persoonlike diens en bereidwilligheid om daardie ekstra bietjie moeite te doen, is reeds alombeken in die gemeenskap.
Nou, as eienaar en bestuurder, is daar groot planne om hierdie diens nog verder uit te brei en klante sal sommer eersdaags die verskil kan sien.
Moneymarket
'n Eerste vir Danabaai is die Moneymarket toonbank wat in November ingerig sal wees. Klante sal hier 'n eenstopdiens kry wat betref die betaling van hul rekeninge en selfs boetes; voortaan is daar nie meer sprake van lang rye by die munisipaliteit of poskantoor nie - betaal sommer by die Moneymarket toonbank wanneer brood, melk en ander alledaagse noodsaaklikhede gou aangekoop word.
Wanneer daardie vliegtuigkaartjie, buskaartjie of lekker wegbreek beplan word, stop by die Moneymarket toonbank en bespreek die plekke. Soos gewoonlik sal selfoonlugtyd ook hier aangekoop kan word, en selfone sal ook voortaan hier deur die Rica-proses gesit kan word.
Met Computicket deel van die Moneymarket toonbank, was dit nog nooit makliker om sitplekke vir 'n goeie vertoning vir enige teater of groot geleentheid in die land te bespreek nie.
Uithaler Diens
Mike sê daar gaan hard gewerk word om die reeds voortreflike diens net nog beter te maak. Pensioenarisse kan steeds reken op hul 5% afslag op Donderdae, en Sondae se heerlike gekookte etes sal steeds 'n treffer bly. Trouens, hierdie smullekker etes bly die bes bewaarde waarde vir geld ete op Mosselbaai!
Mosselbaaiers kan egter op die uitkyk wees vir die weeklikse promosies. Hou gerus die Mossel Bay Advertiser dop om te sien watter produkte teen watter onoortreflike pryse weekliks op spesiale aanbieding is.
Mike nooi ook klante om hom persoonlik oor enigiets in die winkel te kontak by 044 698 1024. "Kom gesels, my deur is altyd oop". Hy volg ook 'n oopdeur beleid met sy 27 personeel, wat waarskynlik die rede is waarom hierdie OK Grocer geken word aan van die vriendelikste personeel op Mosselbaai.
"Ons wil ook graag die klante vir hul geduld met die ongerief tydens die oorgangsproses bedank. Hopelik, sodra die vervoerkrises verby is, kreun ons rakke soos gewoonlik onder die beste waarde vir geld produkte. Ons produkte en pryse kompeteer veral gunstig met van die grootste kettingwinkels, kom kuier en vergewis u van hierdie waarde vir geld belofte," nooi Mike.
Nuwighede
Met die somer net om die draai kan klante uitsien na die heerlike Marcello's Frozen Yoghurt roomys, en vir die gesondheidsbewustes word die Weighless produkreeks uitgebrei vir 'n groter keuse.
Mike doen ook besondere moeite om produkte, waar moontlik, spesiaal vir klante op te spoor.
Dan, natuurlik, soos menige Danabaaier reeds weet, is die lekkerste, varsste brood op Danabaai te koop. Nou word ook spesialisbrode vars gebak en daagliks saam met die heerlikste vars bereide kos en deli-voorraad aangebied.
Danabaai se OK Grocer bied 'n eenstopdiens waarop Danabaaiers behoorlik trots kan wees.

Jacques van Tonder is net so opgewonde oor dié nuwe uitdaging wat op hul wag.