Stap jy by die deure van hul kantore in, vind jy nie net twee argitekte hard aan die werk nie, maar kan jy jou verkyk aan die weergalose kunswerke van die befaamde Marie Vermeulen Breedt, en net neffens kan jy kus en keur uit fynkuns materiaal wat te koop aangebied word.
Regoor die ou NG Moedergemeente - heel gepas - in die statige Prince Vintcentgebou het 'n nuwe firma verrys, waar Adelai Alberts en Lodewyk Coetzee, twee begeesterde jong argitekte, kragte saamsnoer om met onverbeterbare kliëntediens en deur kwaliteit argitektuur, veral residensieel, die kliënt se ideale idee of droom in realiteit om te sit.
Vir menige huiseienaar is die besit van 'n woonhuis die grootste enkele belegging wat ooit gemaak sal word. Juis daarom is dit belangrik dat elke sent van daardie belegging aangewend word om 'n lewensideaal te vergestalt. Coetzee Alberts Argitekte lewer daarom juis toesig op die terrein gedurende konstruksie, wat nie net die droom op papier vergestalt nie, maar verseker dat daardie droomhuis 'n werklikheid word. Dit is juis vir hierdie twee argitekte belangrik dat die gees van die omgewing, die "genius loci" van die die spesifieke terrein vasgevang moet word.
Coetzee Alberts Argitekte beskou 'Groen' beginsels as integraal in hul ontwerp en is daarom by die Green Building Council geregistreer, een van die weinige argitekfirmas in die Suid-Kaap wat daardie verbintenis gemaak het. Die firma is ook by die SA Instituut vir Argitekte geakkrediteer.
Slegs die nuutste tegnologie word ingespan in die moderne kantore van hierdie klantgesentreerde firma.
Die restourasie van die Klipkerk by die NG Kerk Moedergemeente Mosselbaai, tel onder een van Lodewyk Coetzee se voorkeurprojekte en hy was ook nou betrokke by die vernuwing van die ou Pastorie na die Gemeentehuis.
In samewerking met groot argitekfirmas in Pretoria en Kaapstad het Adelai Alberts rede om trots te wees op die kantoorgebou van die Departement van Handel en Nywerheid in Pretoria en die historiese gastehuis 'Jesmond Dene House' in Newcastle in Engeland.
Tog is dit hierdie twee optimistiese argitekte se droom om vir Mosselbaai geboue te ontwerp en spasies te skep vanaf die konsepstadium totdat die projek finaal afgehandel is, waarna die eienaar uiteindelik met trots en tevredenheid as 'n huis en woning kan verwys. Uiteindelik, sê Adelai, "is 'n gebou tog 'n massiewe, unieke beeldhouwerk waarin 'n mens leef". Die Suid-Kaap kan regop sit en kennis neem van hierdie twee jong entrepreneurs, wat daarna streef om eersdaags as dié mees bekende en bekroonde argiteksfirma in die omgewing gereken te word.

In die Artist's Corner word fynkuns materiaal verskaf en hulle spesialiseer daarin om unieke en spesiale produkte vir enige kunstenaar te bekom. Hulle voorsien ook 'n aanlyndiens waar produkte binne drie dae landwyd per koerier versend kan word.