Hy het 25 jaar in die musiekindustrie gevier en die gehoor verlustig met 'n paar van sy nuwe snitte, maar hulle ook teruggeneem na sy beginjare - en al die hoogtepunte tussen-in.
Die vertoning was gepak met treffers - van 'Laaste Lag' tot Neil Diamond-nommers, sy gunstelingliedjies uit die 'Toeka'-toer, natuurlik so bietjie Elvis, 'Bloubul' en 'n emosionele 'Ons Sal Oorleef'. Wat die vertoning veral spesiaal gemaak het, is dat meeste van die liedjies op akoestiese kitaar deur Steve vertolk is.
Tydens 'n vrae-en-antwoord-sessie het hy telkemale grappies gemaak oor sy baie kinders, maar ook vertel hoekom hy nie (altans, nie nou) 'n politikus wil wees nie. Selfs Steve was effens oorbluf toe Marius Dalton, in plaas van om 'n vraag aan Steve te vra, op sy knieë gaan en sy meisie, Desré Benade, vra om met hom te trou.
Steve het van die verhoog af vir Eduart Hugo van Xtreme Functions, wat die konsert gereel het, geloof vir sy goeie werk en gesê dit is mense soos hy (Eduart) wat sorg dat kunstenaars hul beroep kan uitoefen.
Die sanger het geduldig hantekeninge uitgedeel en gestaan vir foto's na afloop van die vertoning. Volgens, Eduart, het Steve sy besoek aan Mosselbaai terdeë geniet.

Steve Hofmeyr het honderde bewonderaars bekoor met sy optrede in Mosselbaai Stadsaal verlede Vrydag. Hier laat los hy 'n ballon aan die einde van sy liedjie 'Blou Ballon'.