SUID-KAAP NUUS - Michael Lindt is beslis nie 'n onbekende naam in die Suid-Kaap nie, maar die afgelope paar maande het die res van die land regop begin sit oor hierdie musiek-juweel.
Sy CD, Sal vir altyd bly, wat onlangs deur Select musiek opgeneem is, is besig om die musiekwêreld te laat regop sit. Dit is nou ook die Suid-Kapenaars se geleentheid om hierdie sanger in aksie te sien tydens die bekendstelling van die CD op Vrydag, 15 Julie by die Kalahari Teater op George.
Michael, wat ook 'n liedjieskrywer en komponis van formaat is, het die meeste van die liedjies op die CD self geskryf.
Die titelsnit het hy spesiaal vir sy pragtige vrou, Marelize, geskryf.
Michael het as jong seun op Ceres glad nie in musiek of sang belanggestel nie. Op 16-jarige ouderdom het hy saam met 'n vriend aan 'n kunskompetisie deelgeneem en was aangenaam verras oor die reaksie op hul duet. Dit was eers in 1995 as student aan die Christelike Musiekskool dat hy sang- en kitaarlesse begin neem het. Later was hy ook dosent en akoestiese kitaarspeler en agtergrondsanger vir die gospelsanger Julius Magan.
Hy het twee jaar saam met Magan opgetree en deur die land getoer. 'n Paar van die liedere op Magan se eerste CD is ook deur Michael geskryf en getoonset.
Sy eerste CD, The heart of man is gedurende 2004 vrygestel.
Sedert Mei 2006 is Michael voltyds betrokke by die kerk op George waar hy die musiek- en sangleier is. Hy rig ook die Parkdene skoolkoor vir kompetisies af en word gereeld gevra om as beoordelaar by verskillende sangkompetisies op te tree.
Kaartjies is beskikbaar by Computicket en die teater by 044 874 5000.