MOSSELBAAI NUUS - Die jong vioolduo van Mosselbaai, Ingrid Keyser en Maja Corcoran (beide 11) van Laerskool Park, het vanjaar groot sukses by die Con Spirito-kultuurvereniging se jaarlikse kompetisie behaal.
Dié twee leerders is eers as die Wes-Kaapse wenners in hul provinsiale ronde aangewys en het daarna na die nasionale deurgedring, waar hulle weereens as wenners in die instrumentaleduetafdeling gekroon is
Con Spirito, wat vanjaar sy 23ste bestaansjaar vier, is een van die land se bekendste kultuurverenigings en bied ’n platform waar jong talent hul vaardighede kan ontwikkel en ten toon stel.
Hierdie jaar het leerders uit 13 streke landswyd deelgeneem.
Vir Ingrid en Maja is die prestasie nie net ’n hoogtepunt in hul musikale reis nie, maar dit is ook ’n inspirasie vir die ander jong musikante in die Mosselbaai-gemeenskap.
Hulle het 93% vir die klassieke afdeling ontvang en 95% vir die moderne afdeling, wat hulle die eerste plek daarin besorg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’