TUINROETE NUUS - Laerskool Noord se leuse is 'Kyk noord en stoot voort', maar in hierdie lekkerlag-produksie met bekendes op die planke is dit alles behalwe die geval.
Die stuk het 'n ouderdomsbeperking van 13 met die bekende akteurs Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee wat jou sal laat skater.
Drie onder-wyseresse beplan 'n verrassingsafskeids-partytjie vir hul skoolhoof se aftrede. Tussendeur die netbaljuffrou, Zelda de Wet, se vreeslose fluitjie, Bets du Preez se dramatiese deurmekaar administrasie en kaftans en sorglose Marietjie wat probeer om die wit vlaggie van vrede te laat wapper en seëvier, met haar glitter stickers en sticky notes, is hierdie personeelkamer 'n tikkende tydbom.
En boonop gaan Meneer enige oomblik aankondig wie by hom oorneem as die nuwe hoof. Kan dit een van hulle wees?
Laerskool Noord is 'n komiese kykie na wat werklik agter die swartbord gebeur. Skrywer, Ilne Fourie, bekend vir haar RSG-radiodramas, kleur met haar tong-in-die-kies humor en pittige waarnemingsvermoë hierdie karakters so in dat iedereen van ons sonder twyfel een van ons oud-onderwyseresse sal herken.
Gideon Lombard, bekroonde akteur en regisseur, hou almal se varkies, en in Meneer se geval, poedels op hok.
Die produksie is geskep in samewerking met Vrystaat Kunstefees, Aardklop en NATi.
Die uitstekende akteurs van Laerskool Noord is van links: Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee - bespreek nou!
Bekendes oor Laerskool Noord
Anna Davel: "Ek was lus om te lag en te vergeet van alles wat mal is om my. Dit is presies wat Laerskool Noord vir my was. Gaan kyk dit net. Dit sal jou hart en siel goed doen."
Frank Opperman: "Vier uitstekende akteurs op die verhoog. Dit is groot pret."
Wim Vorster: "Laerskool Noord is by uitstek die heel beste en heel snaaksste komedie (Let wel dis komedie, nie oor-die-stoele-val klug nie.) Dis vlymskerp dialoog, met al drie aktrises wat puik vertolkings lewer, tydsberekening ken en werklik karakteriseer. Bravo dames en heer en insgelyks regisseur Gideon Lombard."
Bespreek
- George: 9 November om 19:30 George-kunsteteater - Bespreek by Computicket
- Knysna: 10 November om 19:00 NG Kerksaal Knysna - Bespreek by Quicket
- Stilbaai: 11 November om 19:00 Stilbaai-gemeenskapsaal - Bespreek by Liesbet by 072 253 0611
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’