Advertorial
MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers sal tydens die naweek van 4-7 Oktober 2018 die geleentheid kry om die eerste “Simphonia” nasionale skoleorkeskompetisie in die Dias-Maritieme Museum by te woon.
Dié kompetisie volg na die hoogs suksesvolle “Cantamus” Nasionale Skolekoorfees wat elke Augustus in George aangebied word. Verskeie orkestipes sal deelneem, insluitend die Queens College marimbaorkes (vanaf Queenstown), die Paarl Gimnasium koperblaasorkes en die Greenwoodskool se simfoniese orkes.
“Simphonia” word deur Suid-Kaap Sporttoere, in samewerking met die Suid-Kaap Musiek Akademie en die Suid-Kaap Kinderkoor aangebied, en poog om kulturele toerisme in die Suid-Kaap te bevorder.
Die openingsfunksie vind Donderdagaand 4 Oktober 2018 in die Diasmuseum om 18.00 plaas waar alle orkeste in een lang ry uitgestal sal wees om ‘n “Big Brag” konsert aan te bied. Tydens die konsert sal orkeslede oor hul skole en orkeste uitgevra word en kans kry om mekaar voor die Saterdag-kompetisie met enkele orkesstukke uit te daag.
Deelnemende orkeste sal op Vrydag 5 Oktober 2018 vanaf 14.00 ‘n kostelose opelugkonsert by die Hartenbos-waterfront aanbied.
Plaaslike orkeste/skole wat graag op Saterdag 6 Oktober vanaf 14.00-17.00 van die geleentheid wil gebruik maak om kostelose opleiding, tesame met die deelnemende orkeste te ontvang, kan gerus vir die organiseerders by 0846459320 skakel om vir hulself ‘n plek te bespreek.
Die beoordeling van orkeste vind Saterdagaand om 18.00 in die Diasmuseum plaas, waartydens die wenners aangekondig sal word en hul trofees uitgereik word. Daarna sal ‘n kort “verbroederingspartytjie” vir alle deelnemende orkeste aangebied word.
Kaartjiepryse vir die Diasmuseum openingsfunksie en/of die beoordelingskonsert beloop R60 per persoon, of R30 vir skoliere, per konsert, en kan per sms by 084 645 9320 bespreek word.
Kaartjies sal ook by die museumingang beskikbaar wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'