Video
MOSSELBAAI VERMAAKNUUS EN VIDEO - Daar is filosowe wat sê dat 'n dag waartydens nie gedans is nie, ware tydmors is. Indien dit waar sou wees, was 2020 opnuut 'n rampspoedige verlies veroorsaak deur Covid-19 en die gevolglike gebrek aan sosiale geleenthede.
Maar Sam Kannemeyer, werknemer van die Santos Train Express en 'n bekende in die plaaslike vermaaklikheidswêreld het besluit, só kan dit nie aangaan nie.
Sy oplossing vir dié toedrag van sake was jazz-dansklasse wat in Maart begin het.
Hy onthou hoe hy en 'n vriend desjare by die Bravo Lounge gaan jazz het as daar 'n orkes speel.
"Met die nagklubs wat so lank toe was en geen sosiale geleenthede wat aangebied word nie, is daar nie meer geleentheid om te dans nie. Ek het 'n bietjie rondgevra oor dansklasse, iets op sosiale media geplaas en toe begin ek."
Kannemeyer sê dat mense uitgehonger is vir dans.
Kyk 'n video hieronder:
"Veral van die vroue wat na die inperking weer aktief wil raak, hou nie baie van draf of in 'n gimnasium oefen nie. Hulle sal eerder dans."
Met die eerste klas, was hulle drie. Maar nadat 'n video van die joligheid op sosiale media geplaas is, was hulle met die volgende klas 23.
Hoewel die klasse vir beginners geadverteer is, het dansers van alle vaardigheidsvlakke opgedaag. Die getalle is mooi gemonitor en Covid-19-maatreëls is sover moontlik toegepas, hoewel om 'n masker vir 'n uur en 'n half se dansklas te dra, beslis 'n uitdaging was.
Wat die skamer dansers betref meen Kannemeyer, hy het 'n slag om hulle uit hul dop te laat kruip.
"Ek gesels eers met die persoon en sê vir hulle om hulle te verbeel dat ons alleen in die lokaal is. Buitendien is dit 'n leerproses vir ons almal. Nie een van ons is professionele dansers nie en kom hierheen om stoom af te blaas en te ontspan, nie om mekaar uit te lag nie."
Die geheim van jazz verduidelik Kannemeyer is die voetwerk. "Ek wil heeltyd skree 'werk met die voete, dan die bene, dan die skouers en dan die hele lyf'. Elkeen het ook sy eie unieke ritme."
Vir hom is die terugvoering van sy studente 'n aanmoediging
"Daar het 'n oom kom dans wat met 'n heup sukkel. Hy het dit so geniet en toe vir my kom sê, 'ek voel daar is nog ritme, daar is weer gevoel in my heup'. Hy kon nie wag om na die volgende klas te kom nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'