Oor een ding is Graaff-Reinet se inwoners dit beslis eens - almal is sportmal! Of dit nou ysig koud is of nie, almal woon al die sportgeleenthede in die dorp by en maak 'n uitstappie daarvan.
Ek het ook van verlede naweek af probeer om die meeste geleenthede by te woon, en het gesien hoe ernstig en gemotiveerd elke speler is, van klein tot groot. Ook hoe hulle deur die toeskouers aangemoedig word om net hul beste te gee.
Die onlangse ongelukke op paaie in Gauteng het my ernstig laat begin dink oor hoe veilig dit is om jou kind op 'n bussie te laai om aan 'n sportgeleentheid in 'n ander dorp te gaan deelneem.
'n Ongeluk is wat dit is en niemand kan dit keer as 'n koedoe langs die pad besluit hy wil voor die bussie inspring nie. Hoër Volkskool se netbalspan se bussie het verlede naweek met 'n koedoe gebots - gelukkig het niemand ernstig seer gekry nie. Daar was ook in 2012 op dieselfde naweek 'n noodlottige botsing gewees, waar Cradock Laerskool se hoof en van die leerders tydens die ongeluk dood is.
Maar hoe kan 'n mens sulke dinge voorkom, sonder om jou kind te weerhou om aan wegwedstryde deel te neem? Jy kan nie!
Ons burgemeester, eerwaarde Willem Safers, het intussen besluit om sy eie weeklikse brief uit te bring, waarin hy mooi verduidelik met watter projekte die Dr Beyers Naudé munisipaliteit hulle mee besig hou. Gaan lees dit gerus by die skakel.
Die interskole begin die naweek tussen Asherville en Spandau sekondêre skole en beloof om 'n kragmeting van formaat te wees! Sien julle daar!