Noue ontkoming vir Hartenbos Heuwels-vrou

Generiese foto.

MOSSELBAAI NUUS - 'n Vrou in haar veertigerjare van Hartenbos Heuwels, wat alleen woon, het genadiglik van leed ontkom toe 'n huisbreker wat verlede naweek by haar huis ingebreek het, gevlug het nadat sy teenwoordigheid ontdek is.
 
Die voorval het op Saterdagoggend, 23 Januarie omstreeks 03:50 in Besembos-singel plaasgevind. Volgens inligting verskaf deur die SAPD, het die vrou wakkergeskrik toe 'n onbekende swartman langs haar bed in die hoofslaapkamer staan.
 
Hy het egter toe gemaak dat hy wegkom, deur 'n oop venster in die voorportaal gespring en van die toneel gevlug.
 
Die vermeende huisbreker het twee selfone vanaf die vrou se bedkassie geneem.
 
Tydens 'n ondersoek van die toneel is bevind dat die krag in die woning afgesit was.
 
Daar word vermoed dat die vermeende inbreker die krag moontlik by die hoofskakelaar afgesit het, ten einde te verhoed dat sy slagoffer die huisalarm deur middel van 'n paniekknoppie kon aktiveer.
 
"Dit was 'n baie nare ervaring gewees," vertel die vrou, wat verkies om anoniem te bly.
 
"Omdat ek al drie jaar lank alleen bly, is ek as 'n reël baie versigtig. Na dese weet ek egter nie hoe mens jouself voorberei op so iets nie. Mense sê hulle is voorbereid, maar eintlik word mens heeltemal onkant gevang."
 
'n Saak van huisbraak word deur kst Luleka Stemela van die Da Gamaskop-speurders ondersoek. Na aanleiding van die voorval het kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie die gemeenskap van Sektor 2 gemaan om aktief by hulle buurtwag betrokke te raak.
 
"'n Aktiewe buurtwag het 'n merkbare impak op misdaad in 'n bepaalde omgewing."
 
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a Mossel Bay Advertiser