Al die hengelaars wat ingeskryf het, het ywerig daarna uitgesien om goeie vangste te maak, gebasseer op die vorige week se roofvisvangste.
Die wisselende reënbuie, winde en temperatuurveranderings aan land 'n paar dae voor die SALTIC, het egter dieselfde uitwerking op die temperatuur van die seestrome gehad.
Die watertemperatuur by die Punt het byvoorbeeld in die drie dae voor die SALTIC van 24 C na 18 C gedaal en soortgelyke veranderings is ook in die omgewing van Robbe Eiland aangeteken. Hierdie verskynsel het die roofvis lui gemaak om aan die byt te kom en dit het die hengelvernuf van elke deelnemer tot die uiterste beproef.
Groot skole roofis is sporadies gesien, maar van aasvat wou hulle niks weet nie. Die kompetisie het nietemin seepglad verloop en desnieteenstaande die koue water, is daar drie leervisse ingeweeg wat met die louere weggestap het.
'n Paar elwe, asook klein bonitos is ook geland, maar hulle het nie by die leervisse se gewig uitgekom nie.
Piet Barnard het die kompetisie gewen met 'n leervis van 5.1kg, terwyl die tweede plek gegaan het aan Louis de Kock met 'n leervis van 4.1kg. In die derde plek was Robert Edwards met 'n leervis van 2.8kg.
Robert is nog 'n junior en die prestasie om derde te eindig tussen al die 'hardebaarde' is noemenswaardig.
Beste skipperpryse het gegaan aan Piet Barnard (Gorrie), Ernie Havenga (Kierietjies) en Lourens Engelbrecht (Sharwa).
Die totale aantal hengelaars wat deelgeneem het was 42 op 18 vaartuie.
Piet Barnard het die kompetisie gewen met 'n leervis van 5.1kg.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'