RUGBY NUUS - Crusaders teen Groot-Brak
Hier het twee spanne amptelik gewys wat dit behels om vir ’n volle 80 minute rugby te speel. Geen een van die twee kon op hul louere rus nie.
“Ek sou glad nie sleg gevoel het as ons hierdie wedstryd moes verloor nie. Dit was die woorde van die hulpafrigter van Crusaders, Gerwyn Alexander, na afloop van hierdie rillerstryd. Dit was nou eenmaal ‘n bewys dat Brak geensins terug sal staan vir wie ook al nie.
Die wedstryd het goed begin vir Crusaders toe hulle vasskopstut, Alvin George, eerste gaan druk het. Jy kon al in die eerste twintig minute van die wedstryd vir seker weet dat dit vir geen span maklik sal wees om met ’n wen huis toe te gaan nie, albei spanne moes diep delf. Hard, genadeloos en soms effektief. Dit was presies hoe Brak die afbreekpunte benader het. Brak was klinies. Hier wen hulle loshande.
Dit was die senterpaar van Crusaders wat werklik die vonk verskaf het, te veel spoed en krag het gesorg vir kopsere op verdediging. In die eerste helfte kon jy glad nie jou wenner voorspel nie, pure hoë gehalte spel deur die twee spanne. Rustyd was die telling 17 - 10 in die guns van Brak.
Tweede helfte breek aan. Die gemoedere is hoog, mense! Die wedstryd het geneig na ‘n persoonlike saak tussen die Smith-broers van Crusaders en die Brakkies. Dit was uiteindelik die twee broers wat die lekkerste en laaste gelag het na die eindfluitjie. Gaywon Smith en Arden Wesso (seuns van die legendariese Piet Smith) het teen die grein van die spel belangrike lynstaanballe van Brak gesteel.
Dit, gesamentlik met die senterpaar se vernuf om oor die voordeellyn te kom het die Crusaders-span se wen op die einde van die dag beslis. Groot-Brak se visie is definitief om in die eindstryd van vanjaar se kompetisie deel te neem. Na Saterdag se optrede behoort hulle hierdie visie ‘n realiteit te kan maak.
‘n Wedstryd waar die telling soos ‘n wipplank tussen beide spanne beweeg het. Crusaders wen die stryd met 39 - 31.
Toe die Pacaltsdorpers die N2 vat was daar geensins twyfel dat hulle in George sou terugkeer met ‘n verloor nie, behalwe die verloor kon hulle nie ‘n ligapunt terug bring huis toe nie, iets wat hulle dalk nét kan kelder nader na die uitspeelrondes toe.
Evergreens en Heidelberg
Altesaam sewe sleutelspelers van Evergreens het nie hierdie kragmeting behartig nie. Tóg is die afrigtingkorps van Evergreens opgewasse genoeg om nie hierdie as ‘n verskoning te gebruik nie. Elke speler wat sy klub se eerstespantrui oor die kop trek gaan uit om sy alles te gee. Heidelberg is een van min klubspanne wie se spelers eie is aan die dorp, dit sal altyd moeilik wees om met so eenheid op sy agterplaas mee te ding.
Hierdie wen het Lyndon Hartnick (kaptein) en sy span weer ‘n tweede plek op die punteleer verseker. Hierdie twee spanne lê gesamentlik op 65 punte, Heidelberg steek hand op met ‘n beter punte verskil. Hierdie klein faktore sal spanne in-, of uit die uitspeelrondtes hou.
Heidelberg tel dan waardevolle ligapunte op en wen die wedstryd met 32 - 16.
George en Progress
Progress speel weer die tipe rugby van ouds. Progress loop voor met 24 - 3. Eerste 40 minute is verby. Gaan hulle weer hul teenstander toelaat om terug te kom in ‘n wedstryd wat alreeds ‘gewen’ behoort te wees na die eerste helfte se spelpeil? Dit was nie vir George beskore nie.
George het hulself in die voet geskiet deur nie hul vaste fasette in die wedstryd te beheer nie, geen span kan wenrugby speel sonder hierdie fasette nie.
Dylon Smith, skrumskakel van Progress, en Ethan Williams, veelsydige agterspeler van Progress, het die span van George slapelose nagte gegee. Jy verwag hierdie spel van hierdie spelers af. George het teruggeveg en twee drieë gaan druk, Progress doen dieselfde en jubel op Outeniquapark deur George oortuigend met 38 - 17 te wen.
Bridgton en Barbarians
Wat kan daar nou nog gesê word van die manne anderkant die mooie Outeniquaberge? Willem Hiton Japhta, blitsige skrumskakel van Bridgton het in ‘n tydperk van 13 wedstryde reeds 21 keer agter die doellyn gaan kuier. Alhoewel Bridgton ‘n goeie balans het tussen jong en ervare spelers is dit duidelik dat Japhta ook bekend as die Fox, tot dusvêr die middelpunt van Bridgton se sukses is.
As daar twee spanne is wat weens hul huidige spel verdien om die uitspeelrondes te behaal dan moet dit Brak en Bridgton wees.
Alhoewel Barbarians genoegsame weerstand gebied het teen die span van Oudtshoorn, kon hulle net nie die wen deur haak nie. Bridgton wen Barbarians met 30 - 22.
Maoris teen Blanco
Maoris val vas teen ‘n vasberade span van Blanco. Darren Fortuin se individuele drie vanaf sowat 80 meter weg van doellyn af het geensins te doen met swak verdediging nie. Die jongman wat week na week help om sy span se positiewe momentum binne die klub te behou verdien hierdie week ‘n plekkie onder die son. Hy het ‘n kanonvoet wat spanne myle ver terug dryf, bedrieglike spoed wat jy nie altyd in ag neem nie.
Hierdie faktore maak van hom definitief ‘n uitsondering. Blanco wat tans die gemoed in die gemeenskap kom verander het met hul goeie vertonings tot dusver is nog lank nie klaar nie.
Maoris aan die anderkant speel ook met ontsettend baie trots en spanne wat nog die ‘klip’ in Borcherds moet besoek, sterkte. Die eindtelling was, Blanco 45 - Maoris 20.
Riversdal Blues teen Jaguars
Riversdal Blues het gesorg vir ‘n baie hartseer rit terug na Crags. Jaguars kon nie daarin slaag om die span van Riversdal te stuit nie. ‘n Wedstryd wat jy nie wil verloor hierdie tyd van die seisoen, in die situasie waarin jy jouself bevind nie. Daar moet ‘n wenner en ‘n verloorder wees.
Die wedstryd was die stryd tussen die twee onderste spanne op die punteleer. ‘n Verloor maak dit net nog moeiliker om jou status in die premierliga te behou. Blues sien die lig. Jaguars begin al hoe meer die Presidentsliga se deure nader.
Die wedstryd het geëindig met Blues wat die oorhand gekry het na 80 minute se speeltyd. Blues wen Jaguars met 20 - 14.
Toeskouers, behou die goeie gees tydens wedstryde. Tot volgende week!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’