MOSSELBAAI NUUS - Die SWD Superliga A se Top-8-kompetisie is volstoom aan die gang en die eerste wedstryde het reeds verlede naweek plaasgevind.
Groot-Brak-rugbyklub het teen Progress van George kragte gemeet, en al drie die Brakkies-spanne het hul wedstryde oortuigend gewen.
Brak se A-span het behoorlik die krane oopgedraai en daarin geslaag om die besoekers met ’n wegholoorwinning van 62 - 29 te troef.
’n Sarsie drieë is gedruk nadat die voorspelers ’n uitstekende grondslag gelê het. Die agterspelers het die voordeel ten volle benut deur keer op keer die doellyn oor te steek en skitterende drieë op te dis - die ondersteuners was deurentyd op hul voete.
Uitblinkers vir die Brakkies was Anroy Roelfse wat danksy sy harde werk twee drieë gedruk het, asook Tyrese Michaels wat met drie skitterende drieë ’n uitstaande vertoning gelewer het.
“Elke speler was daarop ingestel om sy spelpeil te verhoog en ’n waardevolle bydra tot die span se sukses te lewer,” het die spanbestuur gesê.
Groot-Brak reis dié naweek na Mosselbaai vir ’n opwindende kragmeting teen hul bure, Mosselbaai Barbarians. Hierdie ontmoeting word as een van die grootste plaaslike derbies in die SWD Top-8 beskou en beloof om ’n ware rillerstryd te wees. Die wedstryd vind by die Van Riebeeck-stadion plaas.
Die B- en C-span se tellings was 43 - 26 en 26 - 25 onderskeidelik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’