SONSKYNVALLEI NUUS EN GALERY - Die Sunshine United-rugbyklub het verlede Saterdag die SWD se Kusligahalfeindstryd teen Formosa Phoenix van Plettenbergbaai by United Park in Sonskynvallei gewen.
Dit was ’n strawwe wedstryd waarin albei spanne uitstekende verdediging en spel getoon het; die eindtelling, 13 - 11 in die manne van Sonskyn se guns, dien as bewys hiérvan.
Formosa Phoenix het sterk in die skrums vertoon en kon vinnig vanuit die losgemale speel, maar Sunshine United het met kragtige duikslae en goeie verdedigingswerk hierop geantwoord.
Die afrigters van beide spanne het mekaar na afloop van die wedstryd gelukgewens, die toonbeeld van ware sportmansgees.
Nou lê die eindstryd voor. Sunshine United vat op Vrydag 4 September die Kranshoek Dolphins (ook van Plett) by Outeniquapark in George aan. Die Dolphins het húl plek in die finaal verseker ná hulle die afgelope naweek die Herbertsdale Warriors in Plett met 27 - 13 oorwin het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’