MOSSELBAAI SPORT NUUS - Mosselbaaier Taswin Kayster (20) tans verbonde aan die Bloem Rugby Akademie, het na sy deelname aan die pas afgelope World Youth Rugby Festival (WYRF) in Kalifornië, VSA 'n rugbykontrak in Holland losgeslaan. Taswin het onlangs nog na borge gesoek om die toernooi in Kalifornië by te woon en nou staan hy reeds met die voet in die stiebeuel om in Augustus in Holland aan te meld.
Taswin het ook tydens die toernooi 'n toekenning ontvang vir die meeste drieë gedruk, 'n totaal van agt.
Hy vertel dat hulle span baie gou goeie en sterk bande gevorm het wat tot hulle sukses op die veld gelei het. "Ons was soos broers, daar was net dadelik 'n konneksie tussen ons."
Spanne van Amerika, Engeland, Samoa, Fidji en ander Suid-Afrikaanse spanne het ook aan die toernooi deelgeneem. Volgens Taswin was die span van Samoa hulle gedugste teenstanders. "Hulle het ons werklik 'n harde tyd gegee. Die Samoane is fisiek en baie solied op die veld."
Taswin, getrou aan sy persoonlikheid, gaan die meeste van sy speeltyd in Holland maak. Hy het egter ook die vooruitsig dat die Universiteit van Suid-Kalifornië, waar die spelers tuisgegaan het, hom moontlik oorweeg vir 'n sportbeurs om daar te gaan studeer.
"Ek het nooit hierdie dinge verwag nie. Die afgelope vyf jaar was hard en ek het dikwels gesukkel. Maar 'n mens moes geduldig wees. Jou tyd gaan kom en nou - nou is mý tyd."
Taswin is baie dankbaar tenoor al die borge wat sy deelname aan die toernooi moontlik gemaak het, by name die Mosselbaai-munisipaliteit en die Garden Route Casino.
Taswin Kayster (met bal) in aksie tydens die World Youth Rugby Festival (WYRF) in Kalifornië, VSA.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'