MOSSELBAAI NUUS - Een van Hillcrest Sekondêre Skool se uitstaande voormalige rugbyspelers Thansville Mayman (16), is opgeneem in die Rovers o/16 uitnodigingspan wat later vanjaar na Ierland sal toer.
Thansville se spel het al belofte getoon toe hy vir Erika Primêre Skool uitgedraf het. Hier het sy afrigter Winston Seconds hom gemotiveer en aangemoedig.
Thansville oftewel Tank, soos hy bekend staan is hierna gekies vir die o/12 HUB-span. 'n Jaar later is hy opgeneem in die o/13 SWD Cravenweek-span. Tank het tydens sy skoolloopbaan ook uitgeblink in atletiek.
Thansville is verlede jaar gekies vir die o/15 Iqhawe-week se SWD span. Sy talent is raakgesien deur 'n skool in Garsfontein, Pretoria waar hy tans besig is om sy skoolloopbaan voort te sit.
Volgens Francois Uithaler van Hillcrest waar Tank skoolgegaan het, het dié seun 'n vriendelike, stil geaardheid, maar het hy juis sy bynaam ontvang as gevolg van sy aggressiewe spel op die rugbyveld.
Die toer na Ierland vind plaas vanaf die 30 November tot 9 Desember. Die koste om deel te neem is R40 000.
"Ons vra graag aan die gemeenskap om hulp en enige bydraes om te help om hierdie seun se droom te bewaarheid. Hy is baie opgewonde om deel te wees van hierdie toergroep. Sy ouers is druk besig met fondsinsamelingsprojekte, maar ons glo en vertrou dat daar is barmhartige samaritane wat ook hul harte sal oopmaak om hierdie seun te help."
Vir enige verdere iligting, kontak Louise Mayman (084 498 9936) of Francois Uithaler (066 398 2725).
Mosselbaaier Thansville Mayman (16), voorheen van Hillcrest Sekondêre Skool speel tans rugby vir 'n skool in Garsfontein, Pretoria.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'