MOSSELBAAI RUGBY NUUS - Taswin Kayster (20) tans verbonde aan die Bloem Rugby Akademie, mag dalk net die volgende jong sportheld uit Mosselbaai wees wat die dorp gaan trots maak op die internasionale speelveld.
Taswin, voorheen 'n leerder aan Diaz Primêre Skool en Hillcrest Sekondêre Skool, voordat Hentie Cilliers Kollege in die Vrystaat sy rugbytalent gesien en hom opgeraap het, is gekies om deel te neem aan die World Youth Rugby Festival (WYRF). Die WYRF vind later vanjaar in Kalifornië, VSA vanaf 1-3 Julie plaas.
Taswin, wat tans die nommer 7 of 8 trui oor sy kop trek, word deur sy afrigter, Chris Kasselman beskryf as 'n speler met groot potensiaal vanweë sy krag, spoed en toewyding. As jy Taswin vra oor sy speelstyl sal hy sê dat hy baie gedissiplineerd, koel en kalm op die veld bly.
Taswin se ma, Rita Kayster is jarelank al verbonde aan die Piet Julie MIV/VIGS-aksiegroep en is met reg trots op haar seun. As 'n enkelma, het sy deur die jare haar deel van opoffering moes maak ter wille van haar seun se drome en om sy potensiaal ten volle te ontwikkel. "Ons is baie opgewonde vir Taswin om die toernooi by te woon, aangesien daar tydens verlede jaar se toernooi, vyf spelers gekies is wat buitelandse kontrakte ontvang het."
Die koste vir Taswin om die toernooi by te woon, beloop R34 500.
"Ons doen 'n beroep op die gemeenskap van Mosselbaai om Taswin te ondersteun," vra Rita.
Enige bydraes kan inbetaal word by Bloem Rugby Academy ABSA Rekeningnommer 4085865283. Verwysing Taswin Kayster.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'