MOSSELBAAI NUUS - SWD se Vuka-program vir o. 15-spelers is tans aan die gang en het seuns van Mosselbaai en Hessequa verlede week vir ’n wedstryd op Van Riebeeck-stadion bymekaar gebring.
Hessequa se manne het dié wedstryd op 13 Augustus met 40 - 12 gewen.
Martin-John de Vos, SWD se hoof van rugbysake, sê die Vuka-program vind elke derde kwartaal plaas.
“Dié program het ten doel om meer geleenthede vir spelers uit ‘klein skole’ te skep.
“Elke jaar neem ses streke deel, elk met ’n vooraf geselekteerde en gekombineerde o. 15-span wat oor drie rondes teen mekaar kragte meet. Elke streek hou hul proewe afsonderlik om hul beste span saam te stel,” sê De Vos.
Deelnemende streke sluit Knysna, Plettenbergbaai, George, Oudtshoorn, Sentraal-Karoo, Kannaland, Mosselbaai en Hessequa in.
Klik hier vir foto’s: Twee streke meet op Van Riebeeck-stadion kragte
Volgens De Vos word die program ook gebruik as ’n platform om die SWD o. 15-rugbyspan te kies wat elke jaar die unie by die Nasionale Iqhawe-rugbyweek verteenwoordig.
“Addisioneel word daar sedert 2023 ook ’n o. 15 Vuka XV gekies.”
Die eindronde, waar al ses streke gaan speel, vind op Woensdag 27 Augustus by Van Riebeeck-stadion plaas.
De Vos sê vanjaar se Hollywood Foundation Iqhawe-week vind van 5 tot 9 Oktober in Oudtshoorn plaas.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’