Die Barbarians het die afgelope naweek die Evergreens met 35 - 28 in ’n titaniese stryd op hul tuisveld in Pacaltsdorp, die Graveyard, geklop.
Hierdie opwindende wedstryd, een van die eerstes in die SWD Superliga A se Top 8, het beslis die verbeelding van beide spanne se ondersteuners aangegryp.
Vanaf die afskop was daar klassieke hardlooprugby tussen die twee spanne se voor- en agterspelers.
Beide spanne het elk vier keer gaan druk, maar dit was Babaas se losskakel, Edgar Syfers, se skopvoet wat die verskil gemaak het.
Die Evergreens het die Barbarians vroeg in die eerste helfte met goeie aanvallende spel onder druk geplaas. Met hul kenmerkende rolmaalbewegings binne Babaas se kwartgebied het hulle gevaarlik gelyk, maar rotsvaste verdediging het hulle daarvan weerhou om te gaan druk.
Dit was Syfers met ’n strafskop wat Babaas in die 18de minuut eerste op die telbord gesit het.
Die Evergreens het weer ná ’n rolmaalbeweging in hul besoekers se kwartgebied met ’n vyfpunter geantwoord. Kurtley Stoffels, die Evergreens-losskakel, het hierna nóg punte bygevoeg toe hy vanaf die halfgebied met ’n dartellopie onder Babaas se pale gaan druk het.
Die Evergreens se ondersteuners was in ekstase, maar dit was van korte duur. Die Barbarians het teruggekom en self twee keer agter die doellyn gaan kuier.
Met die telling op 17 - 14 in die Babaas se guns het die manne gaan water drink.
Die Evergreens het in die tweede helfte afgeskop, en die Barbarians se voor- en agterspelers het met goeie balretensie die bal wyd tot by hul blitsige vleuel, Curlin Groenewald, gespeel. Hý is toe vir ’n vyfpunter in die hoekie oor.
Babaas se aanvallende spel is verder met nog ’n verdoelde drie beloon, asook ’n strafskop wat Syfers deur die pale gejaag het.
Met die telling op 35 - 21 het die Evergreens weer teruggeslaan met ’n verdoelde drie, wat die puntegaping tot 35 - 28 vernou het.
Met ’n minuut se speeltyd oor het die tuisspan byna daarin geslaag om ’n gelykopuitslag af te dwing, maar tyd en hantering het teen hulle getel. In die aanvallende posisie, net buitekant Babaas kwartlyn, het die Evergreens die bal aangeslaan en daarmee hul kans verbeur - die Barbarians het as oorwinnaars van die veld af gestap.
Babaas se B-span het met 15 - 17 vasgeval, terwyl die C-span met 27 - 14 gewen het.
Hierdie naweek wag ’n grote: Barbarians (op hul tuisveld) teen Groot-Brakrivier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’