GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Progress van George het verlede Saterdag op hul tuisveld met 25 - 29 die knie teen 'n begeesterde Groot-Brakrivier gebuig.
Met hierdie oorwinning het die Brakkies opgeskuif na die eerste plek op die punteleer en saam met Evergreens gekwalifiseer vir die 2026 Gold Cup, die welbekende nasionale klubrugbykompetisie.
Progress, wat teen rustyd 17 - 10 voorgeloop het, moes hierdie een deurgetrek het, maar hanteerfoute en 'n paar verkeerde besluitnemings het hulle egter gekelder.
Die besoekers, daarteenoor, was meer konstruktief, en ook die meer aanvallende span, veral in die tweede helfte.
In die vaste fasette was dit 'n gelykopstryd tussen die twee pakke voorspelers. Die Brakkies, wat in die eerste helfte een vyfpunter teenoor Progress se twee gedruk het, se spelpeil het dramaties in die tweede helfte verbeter.
Beide spanne het vanaf die afskop in die tweede helfte met goeie aanvallende spel die skare op hulle voete gehad. Reeds in die eerste minuut is Progress se regtervleuel 'n paar meter van die Brakkies se doellyn met 'n dodelike plettervat neergevel voor hy kon gaan druk.
Dit was Groot-Brak met hul kenmerkende rolmaalbeweging wat oorgegaan het vir die eerste drie van die tweede helfte, en die doelskop was suksesvol. Die Brakkies is hierna vir ongeoorloofde spel gestraf, en Progress het aangelê pale toe, wat vir hulle drie punte beteken het.
Met die telling op 20 - 17 in Progress se guns, kon die wedstryd nog enige kant toe swaai. Brak se Barend Alexander, bekend vir sy stormlopies, het egter vanaf 'n losskrum op Progress se kwartlyn sy pad vir 'n pragdrie doellyn toe oopgehardloop. In die laaste minute van die wedstryd het 'n hanteerfout deur Progress, op hul doellyn, gelei na nog 'n vyfpunter vir die Brakkies.
In die doodsnikke van die wedstryd het die tuisspan ná 'n goeie rolmaalbeweging vir 'n troosdrie oorgegaan, maar die skrif was reeds aan die muur.
Groot-Brak se B-span verloor 20 - 27 terwyl die C-span met 26 - 5 gewen het.
More, Saterdag 11 Julie, se speelrooster vir die SWD Superliga A Top 8 lyk so:
• Bridgton (tuis) vs Crusaders
• Silver Stars (tuis) vs Heidelberg
• Evergreens (tuis) vs Barbarians
• Groot-Brakrivier (tuis) vs Progress.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’