Barbarians het gewys hoekom hulle die topspan van die SWD moet wees, toe hulle Groot-Brakrivier met 31-21 geklop het. Rustyd telling was 10-0 in Barbarians se guns.
Groot Brak het nie raad gehad vir die begeesterde Barbarians nie, want die tuisspan was nie dieselfde span wat teen die Evergreens gepeel het nie. Ja, dieselfde spelers, maar die ritme was nie daar nie, die vuur en erns het ontbreek.
Brak se verdediging was swak; hulle het die bal doelloos weggeskop wanneer hulle moes aanval, bal in bewegings aangeslaan wat in punte omskep kan word; hulle het planloos voorgekom.
Babarians het twee drieë in die tweede helfte gedruk omdat Groot Brak geen beheer oor die bal gehad het om dit te behou nie. Hierdie twee drieë is binne minute gedruk deur Wilbar Antony, heelagter, en Charl Hendricks, buite senter, na foute deur Brak.
Die afrigter van Groot Brak, Wilton Pick, was teleurgestel deur die spel wat sy spelers gelewer het en het bygevoeg dat dit net nie Brak se dag was nie.
Voorlangs vir Brak het Friedel Muller, slot, en JP Kock, haker, baie goeie spel gelewer. Vier minute was Barbarians 31-7 voor, maar in hierdie speeltyd kon Brak net 14 punte aanteken, wat beteken het dat hulle 'n tweede asem gekry het.
Barbarians se planmaker en ster van die wedstryd was beslis Morne Buys, skrumskakel, wat goeie balle aan sy losskakel, Franchua Smith, gegee het om hom in staat gestel het om die spel te dikteer.
Morne Buys het ook met sy voet pale toe geskitter en Barbarians in staat gestel om die westryd te wen, want as jy nie stelskopper het nie, word wedstryde verloor.
Edgar Syffers het in die doodsnikke 'n mooi drie gedruk nadat die agterlyn van Brak verwoed aangeval het.
Daar is altyd 'n 'as', ja, as Brak Saterdag Blanco op hul tuisveld wil klop, sal hulle baie moet verbeter met verdediging, balhantering, balbesit behou, anders gaan hulle dit nie maak nie.

Ashwin Frans, skrumskakel van Groot-Brak, stuur die bal weg na sy agterlyn terwyl Barbarians se voorspeler hom met arendsoë dophou in 'n wedstryd op Groot-Brakrivier, wat die besoekers met 31-21 gewen het. Foto: Henry Koert
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'