SLANGRIVIER NUUS - Die Arrows-rugbyklub moes Saterdag in hul tuiswedstryd teen die voorlopers van die SWDRU Eerste Liga B Wesliga, die Thistles-rugbyklub van Friemersheim, die knie buig en het met 31 - 24 die onderspit gedelf.
Dít nadat die rustydtelling 24 - 3 in die Thistles se guns was.
In teenstelling met hul vorige wedstryd teen die Maoris van George, waartydens hulle vir die eerste keer dié seioen op alle silinders gevuur het, het die tuisspan 'n baie powere eerste helfte beleef om die besoekers 'n groot voorsprong te laat opbou.
Daar was egter 'n groot verbetering in die tweede helfte, en die besoekers moes alles uithaal om die wedstryd met sewe punte te beklink.
Die Arrows het wel 'n waardevolle bonuspunt verdien, maar 'n bonuspunt- drie het hulle net-net ontwyk, terwyl die ligavoorlopers wel 'n bonuspunt met hul vier drieë teenoor die drie van die besoekers verdien het.
Vir die wenspan het Lorenzo Prins, stut, Wandall Piedt, skrumskakel, Wayne Prins, senter, en Decadian Roelfse, plaasvervangersenter, elk een drie gedruk, en Verniquo Ayford, losskakel, het met een straf- en vier doelskoppe geslaag.
Hier gee Clarence Michaels, Arrows se plaasvervangerskrumskakel, die bal aan sy spanmaat, Allister Lotz, plaasvervangerflank, wat tot laasgenoemde se drie gelei het. Foto: Clive Pretorius
Vir die tuisspan het Lozayne Skietekat, regtervleuel, twee keer agter die doellyn gaan kuier, asook Allister Lotz, plaasvervangerflank, met een drie, terwyl John Michaels, heelagter, een straf en drie doelskoppe oorgeklits het.
In die wedstryd tussen die B-spanne het die besoekers ook as oorwinnaars met 21 - 14 uit die stryd getree, nadat hulle rustyd met die telling op 0 - 0 gedraai het.
Vir die Thistles het Benji Muller, linkervleuel, Ettiene Roelfse, plaasvervang-ersenter, en Kyle Buys, flank, elkeen een drie gedruk, terwyl Keano Windvogel, plaasvervangerlosskakel, al drie drieë
verdoel het.
Marshall Abrahams, Arrows se slot, rank om balbesit vir sy span te verseker. Foto: Clive Pretorius
Die Arrows se puntemakers was Jay-Jay Papier, plaasvervangerskrumskakel, en Tyrone Lotz, losskakel, elkeen met 'n drie, terwyl Lotz met beide doelskoppe geslaag het.
Die Arrows speel Saterdag 11 Julie weg teen die Superstars van Touwsranten, net buite George, en hulle sal op alle vlakke moet funksioneer as hulle met volpunte huistoe wil keer, aangesien die tuisspan 'n harde neut is om op hul tuisveld te kraak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’