SPORTNUUS - Die afgelope naweek het die Oyster Catcher Trail Run oor drie dae plaasgevind en die roetes het asemrowende strande, oor en langs duine, rotse en fynbos ingesluit.
Ondanks die Kaapstad Marathon asook Meieringspoort Marathon, wat ook die afgelope naweek gehou is, het 83 deelnemers mekaar die stryd aangesê oor drie dae.
Op die eerste dag het drawwers by Gourikwa natuurreservaat gedraf oor 'n afstand van 20km.
Dag twee was 16km by Fransmanshoek/Boggomsbaai en op dag drie op die St Blaize staproete van 16km. Dag drie het begin by Danabaai se tweede strand en geeïndig by die Big Blu restaurant.
Deelnemers het die drie dae in 'n tentdorpie gebly by die Boggomsbaai Gholf klub, wat 'n lekker atmosfeer geskep het.
Die tye is heelwat stadiger op dag twee en drie as gevolg van die roetes wat so baie verander het na die hewige storms, wat aan die kusstreke op die Tuinroete op 16 September ondervind is. Waar daar vantevore strande was, het die massiewe deinings tot gevolg gehad dat rotsplate oopgespoel is, wat die roetes aansienlik moeiliker gemaak het.
In die afdeling vir mans het Leon Grobler die eerste plek geneem met 'n totale tyd van 6:11:13. In die tweede plek was Naudé Enslin en derde Jeremy Gray. Charmaine Rossouw het die afdeling vir vroue oorheers met 'n tyd van 6:19:04. Tweede was Michelle van der Watt en derde Martha Groger-Bimmel.
Die wedloop neem deelnemers oor uitdagende terrein.
Leon Grobler het in die afdeling vir mans die eerste plek geneem met 'n wentyd van 6:11:13. Tweede was Naudé Enslin met 'n tyd van 6:16:16. Foto's: Charl Gerber Sports Photography
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’