SPORTNUUS - Die veerpyltjies het verlede Saterdag behoorlik gevlieg by die Oudtshoorn-skouterrein waar die Ope Ontwikkelingsveerpyltjietoernooi aangebied is.
Dié toernooi vorm deel van die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit se sportfees wat die naweek amptelik begin het.
Dié sport is besig om populariteit, veral onder die plaaslike jeug, te geniet as mens in ag neem dat dit eens bekend was as 'n sport vir middeljarige omies.
Die aantrekkingskrag na die sportsoort vir die jeug kan egter verstaan word siende dat wiskunde ook deel van die sportsoort is. Behalwe vir uiters akkurate oog- en hand koördinasie, moet spelers ook binne 'n breukdeel van 'n sekonde kan aftrek, deel, vermenigvuldig en optel sodat jy kan bepaal op watter dubbel- syfer jy moet eindig om 'n wedstryd te kan wen.
In enkelspel begin spelers gewoonlik vanaf 501 punte aftrek en in dubbelspel van 701 punte af. Die veerpyltjiebord se syfers is verspreid van 1 tot 20 met die binnerame wat trippel die betrokke syfer werd is, en die buiterame wat dubbel werd is. Enige skoot buite die rame is slegs die syfer werd as eenvoud.
Oud en jonk het mekaar die stryd aangesê.
Dan staan die middelkolletjie op die bord bekend as die "bulls eye" wat 50 punte werd is, en die groen "bulls eye", slegs 25 punte.
So dis veilig om te sê dat die spelers konstant besig is met sommetjies in hul kop, iets wat sekerlik voordelig is vir die jongspan wat hul algehele wiskundige geletterdheid 'n hupstoot sal gee wat oorgedra kan word in hul volwasse lewe.
Behalwe vir hierdie pluspunt, word veerpyltjie ook as beroepsport gesien met astronomiese prysgeld wat internasionaal op die spel is.
Die huidige wêreldkampioen van Engeland, Michael Smith, het byvoorbeeld onlangs £500 000 (sowat R12 miljoen) ingepalm as prysgeld tydens 'n internasionale toernooi.
Oudtshoorn Veerpyltjie Assosiasie
Volgens die twee organiseerders, Carol en Stephan Swanepoel, is die vereniging vir die afgelope vyf jaar, Covid-19-tydperk uitgesluit, by die munisipale-sportfees betrokke en is hulle vol lof vir die Oudtshoorn-munisipaliteit se betrokkenheid.
Carol sê dat 28 mans, 15 dames en 8 juniors vanjaar mekaar die stryd aangesê het en dis veral die jonges se geesdrif en vaardigheid wat beïndruk het.
"Ons doelwit is om volgende jaar meer as 20 juniors te hê wat deelneem."
Wat die spel self betref verduidelik Carol dat die spelers in enkelformaat speel vanaf 501 punte waarna uitspeelwedstryde gespeel word om te bepaal wie die wenner is.
Persone wat wil aansluit kan Carol by 074 554 1000 kontak.
Cecerah Toua
Die wenners is as volg:
Vroue-afdeling
- Cecerah Toua
- Anneliza Nel
- Jessica Leanars
Mansafdeling
- Stephan Swanepoel
- JP Schoeman
- Donoven John
Juniors
- Duncan Rabie
- Marciano Claassen
- Demorian Maruma
Duncan Rabie
Stephan Swanepoel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’