Van die wêreld van skiet en sy kompetisies kan jy vir Bennie van den Heever min vertel.
Dié Tergniet-inwoner is onlangs as president van die Suid-Afrikaanse skietsportkonfederasie (SASSCo) verkies.
Hy is ook al sedert 2008 die president van die South African Combat Rifle Association (Sacra).
As nuutverkose SASSCo-president moet hy egter nou die Sacra-presidensie bedank om sodoende neutraal te staan in sy verteenwoordiging van al 17 skietsporte in die land.
Iemand wat hierdie topposisies beklee is natuurlik heeltemal tuis op 'n skietbaan en met 'n geweer in die hand - Sacra se afdeling van die skietsportwêreld is dan ook waar hy deelneem.
"Ek was vir 42 jaar deel van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en het daar met die sport in 1980 begin. En so het ek maar nog nooit opgehou tot vandag toe nie. Ek is nog altyd van skool af mal oor skiet.
"Ag, en hulle sê mos maar, the more you practise, the luckier you get, of so iets - en dit het goed gegaan," vertel Van den Heever.
Vanjaar veral, sê hy, het hy 'n goeie jaar gehad. Gedurende Augustus het hy nasionaal vyfde in die individuele afdeling van die Sacra-kampioenskappe gekom.
Só lê die skuts gedurende Augustus in Bloemfontein aan.
Met dié prestasie het hy soos talle jare tevore weer die land in 'n internasionale toetswedstryd teen Nederland, Nieu-Seeland en Lesotho verteenwoordig.
"Suid-Afrika het uit die aard van die saak die toetswedstryd gewen," sê hy trots.
"Jong, skiet is snaaks, die bordjies kan vinnig verhang word, maar ons het 'n baie goeie reputasie."
Vanjaar se Protea-span. Bennie is voor in die middel.
Oor waar dié hoë gehalte vandaan kom, sê hy hy reken dit is in ons bloed. Hy verwys na seuns wat van kleins af hierdie liefde het, soos hy ook gehad het; vir windbukse en ketties en dies meer, maar die dogters moenie sommer so opsygeskuif word nie. "Hoor hier, ons het meisiekinders wat baie goed doen, hoor!"
Hy sê vanjaar is daar vir die tweede jaar 'n Protea-span vir die vroue gekies. "Ons het regtig vroue wat baie goed skiet."
Vir diegene wat dalk dink skiet is sommer 'n gerondlêery het hy nuus: Dit is hardloop, staan, kniel, lê, opstaan - en alles gaan oor tyd. "Dit is absoluut 'n sport waarvoor jy moet fiks wees. Dit is ook 'n sport wat jou hiér uitput," beduie hy na sy kop.
Bennie en SASSCo se visepresident, Pannetjie Rossouw.
Die fisiese skietgedeelte was nog altyd vir hom lekker, maar in sy bestuursrol het sy fokus ook oor die jare baie verander. "Dis nou lekker om terug te ploeg en skietsport te ontwikkel. Ek het alles bereik wat ek kon bereik."
Nou is dit vir hom lekker om te sien hoe ander, veral jongmense, die kans kry om húlle Protea-baadjies aan te trek.
"Daar is nie 'n oomblik beter as wanneer jy daardie baadjie oor jou skouers trek nie - dit is trane-oomblikke."
Die skiet hou hom lekker besig en hy reis die wêreld vol, maar die lekkerste is "daardie laaste hop" van die vliegtuig wat hom huis toe bring. Hy sê ons land bly maar die beste.
Wanneer hy binnelands reis, kry hy gelukkig ook die kans om familie te sien - hy is immers 'n oupa van vier!
Sy vrou van 40 jaar, Corrie, reis ook graag saam. "Sy ondersteun my regtig. Dis baie belangrik, en lekker!"
Op 63 is hy nog vol passie, en hy reken sy gees is eintlik nog in sy 20's.
"Solank as wat ek die gesondheid het en mense voel ek voeg nog waarde tot die sport." - dis hoe lank hy nog sal aanhou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’