Saterdag was ook die eerste keer dat `n geleentheid aangebied is by die nuutgeboude kantore en konferensiegeriewe.
Hennie Baartman, president van SWD-rugby het met sy verwelkoming gemeld dat dit `n besonderse geleentheid was vir sport in die Eden-distrik aangesien dit die eerste keer was dat SWD-rugby hande gevat het met ander sportfederasies in die beplanning en aanbieding van die werksessie.
Die administratiewe bestuurder van die sport-akademie, Alliyah Allie, het ook haar tevredenheid met die dag se gebeure uitgespreek. "Ons het werklikwaar positiewe terugvoer van die afrigters ontvang en daar was goeie bywoning."
Ian Laubscher, sportbestuurder van die Oudts-hoorn-munisipaliteit, het ook weereens hul toewyding tot sport en sportontwikkeling in die dorp beklemtoon. "Die munisipaliteit sal nie skroom om `n bydrae te lewer nie. Verdere uitbreidings word ook in die vooruitsig gestel. Ons beoog om akkommodasiegeriewe aan te bring wat atlete in staat sal stel om naweke of tydens vakansies hier te bly sodat daar met hulle gewerk kan word."
Jacques du Toit, biokinetikus van die Suid-Afrikaanse Sportinstituut in Kaapstad en regterhand van die bekende dr. Tim Noakes, Johann Lerm, oudafrigter van die SWD Arende en bestuurder van die SWD-rugbyakademie, Abrie de Swardt, lektor in menslike bewegingskunde en bestuurder van die SWD-sportakademie asook Pieter Breytenbach, lektor by ETA, George-kampus, en alombekende biokinetikus het lesings aangebied.
Die werksessie was die 34ste projek wat reeds vanjaar deur die sportakademie aangebied is.
Van links staan Jacques du Toit, biokinetikus by die Instituut vir Sportwetenskap in Kaapstad, Pieter Breytenbach, lektor by ETA, George kampus, Abrie de Swardt, lektor in menslike bewegingskunde aan NMMU George kampus en bestuurder van die SWD Sportakademie, Johann Lerm, bestuurder van die SWD Rugbyakademie en Martin de Vos, ontwikkelingsbeampte by SWD Rugby. Foto: Jacques Swart
'Ons bring jou die nuutste Klein-Karoo | Tuinroete nuus'