Video
MOSSELBAAI SPORTNUUS - As jy 139kg weeg en 36 meter met tussen 300kg en 400kg op jou rug kan loop, 300kg dooie gewig kan optel en dit is maar net die begin van 'n reeks oefeninge, dan is jy sekerlik Mosselbaai se sterkste man in Afrika.
Dit is ook presies wat Shane Jensen (49) die afgelope naweek tussen 25 en 27 November in Rustenburg gedoen het.
Hy het aan die Africa's Strongest Man-kompetisie deelgeneem en het in die meesters ope-afdeling Afrika se sterkste man geword. Vir drie martelende dae is hulle uithouvermoë asook geestelike- en fisiese krag getoets.
Wat die prestasie so besonders maak, is dat Jensen in 2011 Kaap toe getrek het en na 'n rooftog in die Kaap in 2016 is hy deur die dokter meegedeel dat hy nooit weer 'n gewig sou kon optel nie. Hy is tydens die rooftog in die gesig geskiet en die koeël het sy nek gebreek. Dit het egter nie die gebore Johannesburger wat in Swakopmund grootgeword het, laat stilsit nie.
Met harde werk en 'n goeie dieet het hy sy gestel opgebou en hy is na 'n kompetisie in Ysland genooi waar hy sesde gekom het. Plaaslik het hy aan verskeie kompetisies deelgeneem. Hy het by die George-skou deelgeneem, die Wes-Kaap se sterkste man kompetisie gewen en in Durban die Static Monster South Africa-kompetisie gewen in sy kategorie. Vandaar is hy genooi om deel te neem in Ohio in Amerika maar weens Covid-19 en die groot koste verbonde aan die 10 dae kwarantyn voor en 10 na die kompetisie kon hy nie gaan nie. Met twee derde plekke in vorige jare se Africa's Strongest Man-kompetisie kon hy verlede jaar nie deelneem aangesien hy die Africa's Strongest Man-kompetisie hier in Mosselbaai aangebied het.
Hierdie jaar se wen het egter vir hom deure oopgemaak en dié sterk man is genooi om aan die 2023 World Masters Strongest Man te gaan deelneem.
Hy oefen by Eden Fitness in Voorbaai en weens die intense oefening waar duisende kalorieë verlore gaan, volg hy 'n streng dieet en hy eet elke drie uur 'n maaltyd. Geen suiker. Geen gaskoeldranke. "My liggaam vertel my wanneer ek energie nodig het," sê hy. Sy dieet bestaan hoofsaaklik uit rys, maalvleis, biefstuk, soetpatats, wortels, brokkoli en hy eet ook 10 eiers op 'n dag.
Mosselbaai kan trots wees op die groot sterk man en hy gaan beslis in die toekoms Mosselbaai en Suid-Afrika se naam hoog hou.
VIDEO - Jensen Afrika se sterkste man (Video: Jannie du Plessis).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'