Video
MOSSELBAAI SPORTNUUS EN VIDEO - As jong seun gooi jy kleilat en skiet kettie. Dan is dit windbuks en later groter kalibers wat 'n groot liefde vir wapens laat ontwikkel totdat dit later 'n loopbaan word.
Dis nou tekenend van 'n plaaslike skut, Bennie van den Heever se lewensverloop.
Van der Heever is 'n inwoner van Tergniet en een van die land se topskuts wat diep spore in dié gewilde sportsoort getrap het.
As jong seun van Zastron in die Suid-Vrystaat, is hy blootgestel aan dit wat jong seuns doen op so 'n landelike dorpie - van kleilat gooi tot .22 skiet. As leerling van HTS Bloemfontein, later bekend as HTS Louis Botha, het Van den Heever by die kadette aangesluit en vele prestasies op skool in skyfskiet behaal.
Na matriek moes hy ses maande wag vir die Julie-inname vir weermagdiens, maar in die tyd word hy deur polisievriende oortuig om eerder by die polisie aan te sluit. En dis waar sy loopbaan as skut begin floreer het.
In 1982 met die R1 en later die R4-geweer het Van den Heever begin met die destydse diensskiet om die medaljes en trofeë in te ryg. Sy droom word egter eers in 1997, 14 jaar later waar toe hy in die baie kompeterende sport van gevegskiet (combat shooting) sy eerste Protea-kleure verwerf.
Met sy eerste oorsese kompetisie in Australië kom die Suid-Afrikaanse span tweede tussen al die groot lande soos die VSA en Kanada met die gasheerland die wenners.
VIDEO: Bennie knap met die skietkuns
Groen en goud
Vir 13 jaar het die eer van groen en goud hom te beurt geval en het hy verskeie lande besoek, baie vriendskappe opgebou en selfs verskeie kere as spanbe-stuurder opgetree. "Ek is steeds aktief besig met die gevegskiet, hoewel die Covid-19 ons so bietjie gestrem het, maar ons hoop ons sal dit voluit weer kan hervat," vertel hy.
Nie net presteer hy op die gebied van sport nie, maar studies en na harde werk deur al die range in die polisie eindig hy sy loopbaan in die polisie as luitenant-kolonel. Voor sy aftrede was hy stasiebevel-voerder van verskeie polisiestasies in en om Bloemfontein.
Hy is ook 'n lid van die plaaslike Neill Calitz-skietklub, waar hy al verskeie kere as kampioen skut bekroon is en ook vanjaar se beste manlike skut is. "Dis net baie lekker om die sosiale interaksie te hê en net weer te kan skiet en die reuk van kruit te ruik," sê Van den Heever.
Stilsit is beslis nie op sy agenda nie. Hy is die afgelope 14 jaar die president van die South African Combat Assosiation (SACRA), asook 'n tyd gelede verkies as die president van die International Service Rifle Association (ISRA).
"Sport gee die geleentheid om vriende te maak wat van onskatbare waarde is. Dit is nie altyd belangrik om te presteer in sport nie. Die feit dat mens kan deelneem en ander mense ontmoet en die interaksie met ander mense is die belangrikste."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'