GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Daar word more, 24 Augustus, geskiedenis gemaak wanneer Hoërskool Sao Bras en Groot-Brakrivier Sekondêre Skool mekaar in 'n FNB Classic Clashes sportbyeenkoms op die rugbyveld en netbalbaan die stryd sal aansê.
Die twee skole ding al vir die afgelope 40 met mekaar mee, maar volgens Peter Smith, Groot Brak se sporthoof, sukkel hulle nou al baie lank om die FNB wedstryde op Groot Brak aan te bied.
"Daar was baie faktore wat teen ons getel het. Ons kon hulle uiteindelik oortuig dat ons die kapasteit en infrastruktuur het om dit aan te bied.
"Daar was nooit twyfel teen wie ons sou speel nie en toe ons Sao Bras in kennis stel, was hulle dadelik aan boord," sê Smith.
Groot-Brakrivier is die jaar 40 en Sao Bras 60 jaar oud. Die Sao Bras reëlingskomitee onder leiding van hul sporthoof, meneer Gillmer Johnson, is net so opgewonde oor die geleentheid.
Sao Bras sporthoof, Gillmer Johnson, en netbalafrigters, Allison Frazenburg en Herschel Basson.
Die skole doen 'n beroep op die gemeenskap van beide Groot Brak én Mosselbaai om in getalle op te ruk vir dié geleentheid. Die volhoubaarheid van die geleentheid hang van die ondersteuning af.
Smith sê sonder genoeg ondersteuning, sal hulle dalk nie weer so 'n geleentheid kry nie. "Kom ons gee ons kinders 'n kans wat ons nie gehad het nie. Ons het hard gewerk om dit hier te kry, ondersteun dit asseblief," vra Smith.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’