MOSSELBAAI NUUS - Die jong Shaun Boshoff mag dalk net 15 jaar oud wees, maar hy spog met titels soos die sterkste junior seun in die Wes-Kaap, die tweede sterkste junior in Suid-Afrika, en die tweede sterkste junior in Afrika.
Wat egter verstommend is dat die veel jonger Boshoff met dié prestasies spog in die o.18-ouderdomsgroep!
Shaun het onlangs by die Wes-Kaapse Sterkman-kompetisie op Oudtshoorn die juniors dooie gewigoptel-rekord met 15kg tot 235kg verbeter.
Sy stiefpa, Shane Jensen, wat self met 'n paar rekords agter sy naam sit, sê dat Shaun oorgehaal is om nóg twee rekords te verbeter. "Nie-amptelik het Shaun verlede Saterdag, 1 Junie, sy eie Afrikarekord in die gimnasium gedurende 'n oefensessie tot 240kg verbeter.
Hy kan beslis ook op 27 Julie by die SA Log and Deadlift-kampioenskappe sy eie junior Silver Dollar dooie gewigoptelrekord van 236kg verbeter," sê Shane. Verskeie items word by sulke kompetisies beoefen soos troksleep, trok-intou, dooiegewig-optel, band-omdop, boomstomp-optel, sementbal-optel, motorwrakke rol ens.
Naweke kom Shaun huis toe waar hy in die week by sy skool, Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, hard besig is om te oefen. Tuis saam met pa Shane stop die roetine nie en word daar hard geoefen.
Beide pa en seun gaan tussen 5 en 8 Desember deelneem aan die amptelike Sterkman Spele (OSG) by die Alliant Energy Center Colisseum op Madison in Wisconsin, in die Verenigde State van Amerika.
Shaun Boshoff, alhoewel net 15 jaar oud, spog met sterkman prestasies in die o.18-ouderdomsgroep
Shaun neem deel aan die juniors 16 tot 18 jaar en Shane aan die meesters 50+. Dié Spele is 'n kompetisie waar byna 400 van die wêreld se voorste sterkman- en vroue-atlete van meer as 35 lande bymekaar mekaar om die hoogste louere die stryd aansê. Die atlete sal meeding vir die titel van die Sterkste ter Wêreld in verskeie kategorieë.
Dié pa-en-seun sterkspan, is reg vir groter dinge, maar indien iemand kan help met uitgawes kan hulle vir Shane (076 364 4586) kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’