MOSSELBAAI GHOLFNUUS - Die Covid-19-pandemie het weer eens sy kloue diep ingeslaan en sal sekerlik ernstige gevolge vir die ekonomie van ons land inhou. Na die president se laaste gesprek met die nasie het 'n ieder en elk van meet af die erns van die situasie besef.
By Mosselbaai-gholfklub moet daar weer planne beraam word om hierdie probleem die beste die hoof te bied.
Nuwe planne en inisiatiewe sal van al die betrokkenes vereis word. Gelukkig het ons bekwame mense aan die stuur wat ook hierdie skip uit die stormagtige water weer veilig die hawe sal binne stuur.
Woensdag
Woensdag, 23 Junie het 'n klomp begeesterde gholfspelers op die mooi baan toegesak. Die individuele stablefordkompetisie het goeie, gesonde mededinging tot gevolg gehad, met 'n hele klomp spelers wat sterk aanspraak op die eerste plek gemaak het. Eindelik was dit Gareth Shippen wat net-net sy kop voorgekry het en op 41 punte die wenpaal verby gesteek het.
Jarno Loubser, Eugene Duthie en Ricus Serfontein het op 40 punte die tweede, derde en vierde plekke ingeneem. Noël Domingo en een van die juniors, Johannes Pretorius, het op 39 punte met die vyfde en sesde pryse huiswaarts gekeer. Die goeie spel van TJ Taljaard en Chris Barnard, elk op 38 punte, het hulle ook laat deel in die heerlike braaivleis-pakke.
Saterdag
Met die aanbreek van Saterdag, 26 Junie het 'n paar bittereinders besluit om die 'n erge wind te trotseer en hulle staal te toon. Gesoute polisieman en hondekenner, Pierre Botes, het hom geensins van stryk laat bring met die gure weersomstandighede nie en op 38 punte was hy 'n waardige wenner van die individuele stableford kompetisie.
Een van die klub se spog juniors, Wouter Dercksen (voorgee 6), het die harde baarde klippe laat kou en op 36 punte was hy die naaswenner.
Gavin Reynolds wat weer vinnig besig is om sy beste vorm te herwin het op 35 punte derde geëindig nadat hy vir Pat Good en Tony Muller in die uittel-proses getroef het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'