MOSSELBAAI NUUS - Die Boggomsbaai-gholfklub is op 10 Oktober 1984 gestig en van daardie oomblik af loop Mosselbaai Toyota en Boggomsbaai se gholfklub hand aan hand.
Die wonderlike verbintenis is begin deur Fanie Janse van Vuuren, voormalige eienaar van Mosselbaai Toyota, wat lank ook 'n lid van die Boggomsbaai-gholfklub was.
Vandag word die tradisie verder geneem deur sy seun, Stefan Janse van Vuuren, wat nou die handelaarshoof van Mosselbaai Toyota is. Verlede Saterdag, 2 Desember, het Toyota dan ook weer 'n dag geborg en die interessante resultaat is dat Hanno Janse van Vuuren, Stefan se seun, die IPS-kompetisie gewen het.
Mosselbaai Toyota borg ook ons telkaarte en dan het hulle ook verlede Saterdag die wonderlike belofte gedoen dat hulle R1 000 gaan bydra tot die Boggomsbaai-gholfklub se Kansabydrae in 2018.
Vir ons op Boggomsbaai beteken al hierdie bydraes geweldig baie. Ook 'n groot dankie aan Gawie Maritz, die verkoopsbestuurder, wat optree as ons skakel met Toyota, vir al sy moeite met die reëlings, pryse en skakeling gedurende die jaar.
Dis werklik aangenaam om so 'n pad met julle te loop.
Uitslae
In die IPS-kompetisie het die volgende spelers die beste gevaar:
1. Hanno Janse van Vuuren 38; 2. Reinholdt Kahl 37; 3. Willem van Wyk 37.
Naaste aan die penne is gewen deur Hanno Janse van Rensburg op 9/18 en Jaco Pienaar op 6/15. Die langste sethou op putjies 8/17 is gewen deur Willem van Wyk.
Eerskomende Saterdag, 9 Desember, borg Jakkalsvlei Wyne op Boggomsbaai. Die formaat is 'n beterbalkompetisie en besoekers is baie welkom om te kom inskakel. Julle kan vir André Beukes (082 460 0503) kontak om ingedeel te word.
Nedbank
Op 25 November het Nedbank die belangstelling op Boggomsbaai getoets met 'n borgdag. Die dag is goed bygewoon deur die plaaslike spelers en op die ou end het die volgende spelers die beste gevaar in die individuele stablefordkompetisie:
1. Cassie Swanepoel 40
2. Johan Muller 39
3. Willem van Wyk 39
Baie dankie aan Nedbank vir hulle belangstelling. Ons hoop ons kan die verbintenis in die toekoms tot 'n lekker groot byeenkoms uitbou.
ARTIKEL: MARIUS LOUBSER
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'