Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Om die Britse Amateur Gholf Ope te wen op die ouderdom van 17 sit nie in enige amateur gholfspelers se bloed nie, maar vir 'n plaaslike gholfsensasie is dit 'n droom wat as agtjarige jong seun begin het.
Hierdie beskeie jong man is tans gewild op sosiale media en gedrukte media asook op televisie en word beskou as een van die beste opkomende amateur gholfspelers in die wêreld.
In gholfkringe is die naam Aldrich Potgieter (18) op baie se tonge en al sy prestasies tot dusver kan op media opgesoek word. Mossel Bay Advertiser het meer agtergrond gaan soek van die jong man agter die gholfstokke en die pad wat hy gestap het tot op hede.
Potgieter is in Pretoria gebore maar sy ouers het in Middelburg gebly waar hy skoolgegaan het by die Laerskool Kanonkop en Laerskool Middelburg. Hy het as laerskoolseun baie talent getoon in rugby.
FOTOGALERY: Plaaslike gholfsensasie: Aldrich Potgieter
Alra Bekker, die professionele gholfspeler Oliver Bekker se vrou, het Potgieter op Middelburg se dryfbaan ontdek en vir 'n jaar of twee afgerig. Hy het op agtjarige ouderdom sy eerste gholfkompetisie vir laerskole gewen.
VIDEO: Aldrich mik na professionele spel
Australië
Met sy ouers, Heinrich en Adele se emigrasie na Australië is sy rugby bietjie doodgedruk. Sy pa wat self 'n begaafde sportman was, wou ook nie dat Aldrich dieselfde pad loop met rugbybeserings soos hy nie.
Hy was op skool baie geliefd en gewild omdat hy sosiaal is en ‘n groot omgee-hart het. Vir die rede het hy al drie keer die Citizen award gewen op laer- en hoërskool. In graad 11 en 12 dien hy ook op die leerlingraad waar hy ook sy hoërskool loopbaan in Australië voltooi.
"As jong seun was hy van sport en speletjies aanmekaar gesit," sê ma Adele. "Enigiets met 'n bal. Sokker, basketbal, tennis en sy gunsteling, ten pin bowling."
Sy pa het vroeg vir hom ‘n stel gholfstokke gekoop en hom gereeld saamgesleep gholfbaan toe wat sy liefde net laat groei het vir gholf.
"My ouers is die grootste invloed in my lewe. My pa het die liefde vir gholf in my wakker gemaak, hy is my ‘go to’ man en my beste vriend. En my ma is my geestelike mentor en die een wat my op my tone hou," vertel Potgieter.
"Ek kom uit ‘n gelowige en gelukkige ouerhuis met goeie waardes en ondersteuning. Ek het ook ‘n groot familie en vriende netwerk wat my gedurig aanmoedig en bemoedig. My grootste aanhangers is my ouers, my sussie, en natuurlik my ouma, so ek glo hulle is ‘n groot deel van my dryf en motivering."
In sy spaartyd hou hy homself besig met kopkrap-legkaarte, kaartspeletjies, visvang en jag. Hy het op agt jaar sy eerste bok geskiet en het met sy geboorte reeds twee windbukse besit. "Toe ek hom soek met sy eerste skooldag vir ‘n foto voor ons ry, was hy eers gou besig om ‘n duif te skiet. Min gepla oor skool," vertel Adele.
By hulle woning in Mosselbaai spandeer hy tyd saam met vriende maar daar gaan nie ‘n dag verby wat hy nie of gholf oefen of speel of gholf kyk nie. Dit vat baie tyd maar gelukkig is dit vir hom ‘n passie. Hy spandeer daagliks tussen drie en agt uur op die baan, afhangende van wat hy oefen.
"Op toer gaan ek maar saam met gholfpelle uit wat saam toer. Gaan eet uit of gaan kyk ‘n fliek of hou putting kompetisies," sê hy.
As wenner van die Britse Amateur Gholf Ope wat sy hoogste prestasie sover is, het baie deure vir die jongman oopgegaan.
"My beste memory sover was om te kon speel op St Andrews saam met al die groot name. Net om daar te kon wees en om Cameron Smith se wen-oomblik te deel, was 'n hoogtepunt" vertel hy.
Nog feite oor Potgieter
"Ek was van nature kompeterend en het van die eerste keer wat ek ‘n kompetisie gewen het vir my ouers gesê ek gaan eendag ‘n professionele speler (pro) word en die Masters wen."
"My ma en pa sorg dan ook dat ek grounded bly en soos my pa sê om die stert op die grond te hou."
"Ek is ‘n goeie kombinasie van 'n intro- en ekstrovert, maar is maar meer gereserveerd en privaat. Ek wou nooit voor mense praat nie en my hele skoolloopbaan het ek weggeskrum om voor mense te praat. Vandag het ek nie ‘n keuse nie en ek is dankbaar dat ek so vinnig kon gemaklik raak voor die kameras al hou ek nie baie daarvan nie."
"Ek sien myself nog nie as beroemd nie. Ek sien myself maar net as ‘n gewone boerseun wat lekker gholf kan speel."
"Geen meisies op die stadium nie. Ek moet eers ‘n paar dinge in plek kry voor ek daaraan kan dink."
"Ek sal graag eventually op die PGA-toer wil speel en hopelik ‘n paar Majors wen."
"Ek wil graag die jaar uitsien as amateur en dalk kyk of ek volgende jaar kan pro draai. Dit hang alles af van hoe dit gaan met die Majors wat ek die jaar nog sal speel. Dis baie goeie ondervinding! En ek het die geleentheid om my teen die beste te meet. Op my ouderdom is dit prysloos en probeer ek soveel leer as wat ek kan."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'