MOSSELBAAI NUUS - "Met die musiek op die sinkdak en die druppels wat op die grasperk spat en ek nou buite in die poele van genade met my kaalvoete druppels trap, arms na Bo in die dankbare stilwees van die genade van die reën." Met die paar woorde van die digter, Linda du Plessis se gedig, Kom ons dans in die reën, is die dankbare gevoel oor die onlangse reënval in Mosselbaai en omgewing, so mooi saamgevat.
Na die heerlike reën is dit verstommend om te sien hoe vinnig droë grassade en plante verkleur en weer trots hulle koppe omhoog hou.
Op die Mosselbaai-gholfklub se baan het hierdie natuurwonder elke mens en dier aangegryp. Hoe geseënd is ons nie?
Woensdag
Die beterbal stablefordkompetisie het op Woensdag, 13 Maart 164 spelers baan toe gelok. Twee van die bestendigste spelers in die klub, André du Plessis en Wessel Brand, was behoorlik op hulle stukke en op 46 punte het hulle koning gekraai. Na die uittel is Morné Hugo en Francois de Villiers op 45 punte tweede geplaas. Ander verdienstelike tellings was Gordon Engelbrecht en Skippie Scheepers (45 punte), Francois en Hannelie Borchardt (44 punte), Michal Rehr en Johan Swanepoel (44 punte) en Hans en Gerda Minnaar op 44 punte.
Saterdag
Saterdag, 16 Maart het 160 spelers hulle vernuf getoon in Global Golf se individuele stablefordkompetisie. Een van ons nuwe, jong lede, Mickey Challis, het sommer dadelik sy stempel afgedruk en op 40 punte het hy na die uittel die eerste prys omhoog gehou. 'n Besoeker, B Huiskens, asook Kim de Klerk (voorgee 1) het ook 40 punte aangeteken, maar is na die uittel tweede en derde geplaas. Gordon Engelbrecht ry deesdae die kruin van die golf en op 38 punte het die vierde plek aan hom behoort. Die volgende spelers is ook nie met leë hande huis toe nie: G Rule, P D'Archy (albei 38 punte), asook C van den Berg op 37 punte.
Klubkampioenskappe
Inskrywings vir die jaarlikse Ou Mutual-klubkampioenskappe wat op 30 en 31 Maart plaasvind, stroom vinnig in. Jordan Duminy, verlede jaar se kampioen, sal sy titel verdedig. Hoewel hy op hierdie stadium die oorweldigende gunsteling is, kan manne soos Donny Smith, Jacques Budricks, Michal Rehr, Jean Borchardt, Chris van den Berg, Johan Strauss en Clive Kaptein nog die bordjies verhang.
Inskrywings sluit Woensdag 27 Maart.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'