GHOLFNUUS - Groot opgewondenheid heers by die Mosselbaai-gholfklub oor Saterdag en Sondag se jaarlikse Ou Mutual klubkampioenskap.
Die prestigeryke kampioenskappe het weer eens 'n vol veld gelok. Verlede jaar se kampioen, Ian Pautz (voorgee +2), is teenwoordig en op die stadium staan hy 'n goeie kans om sy titel suksesvol te verdedig.
Maklik sal dit egter nie gaan want aan gedugte opponente is daar nie 'n tekort nie. Die 66-jarige Chris van den Berg (voorgee 1) wat twee jaar gelede die senior- sowel as die klubkampioenskap gewen het, sal beslis weer sy teenwoordigheid deeglik laat geld.
Hendri Malan wat tans met 'n voorgee van +3 skitterende gholf speel, sal ook fyn dopgehou moet word. Ronnie Lourens (voorgee 1) wat al drie keer die skild omhoog kon hou, se vernuf en ervaring kan dalk net genoeg wees om as kampioen uit die stryd te tree. Nog vele ander gedugte spelers sal genoemde spelers beslis hard laat werk voordat 'n klubkampioen vir 2022 gekroon sal word.
Woensdag
Sakemannedag het weer op Woensdag, 30 November soos gewoonlik aan al die verwagtinge voldoen. Die 172 spelers het genadeloos alles in die stryd gewerp om die laaste sakemannedag van die jaar as oorwinnaars uit die stryd te tree. Die klub het 'n groepie spelers wat as die Grysbokke bekend staan. Hulle het behoorlik amok gemaak en die kompetisie totaal oorheers. Die moeilike gekombineerde stablefordkompetisie vereis dat beide spelers hulle allerbeste moet lewer en hier het die Grysbokke met vlieënde vaandels uit die stryd getree.
André Lambrechts en Wiekus Pretorius het puik kombineer en op 78 punte het hulle die wenpaal eerste verbygesteek. Kort op hulle hakke was nog twee Grysbokke, Kosie Otto en Rouxwy van Wyk, met 'n indrukwekkende 76 punte.
Die Grysbokke het ook die derde plek verower met Johan van den Berg en Francois de Lange op 74 punte aan die stuur van sake. Wally Melville en Ryk Smit se 73 punte het aan hulle die vierde plek besorg, met nog 'n Grysbok, Karools Hauptfleisch en JJ Joubert, op 73 punte in die vyfde plek.
Dankie aan al die sakemanne vir 'n jaar van wonderlike kameraadskap, lojaliteit en ondersteuning.
Saterdag
Die wenners van Saterdag, 3 Desember se beterbal stableford-kompetisie was twee broers, Clayton en Calvin Ascencao op 47 punte. Raymond en Francois Strydom is op
47 punte in die uittel uitgeknikker. Ronnie Lourens en Tim Fehrsen, asook Danie van Langelaar en Gert Pieterse, albei pare 46 met punte, het vierde en vyfde geëindig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'