MOSSELBAAI NUUS - Een-en-tagtig kinders het onlangs aan die Southern Cape Cricket Bash op Hartenbos en George deelgeneem.
Die High Performance Future Stars (HPFS) Cricket Academy het dié geleentheid van 28 tot 30 Maart aangebied.
Krieketspelers van vyf tot 19 jaar oud en van regoor die Suid-Kaap is in hulle onderskeie ouderdomsgroepe in spanne ingedeel.
Minikrieket se o. 11- en o. 13- wedstryde het by Laerskool Hartenbos plaasgevind, en die seniorwedstryde by Rooirivierrif-sportgronde in George.
O. 11-spanne
Vrydag het die o. 11-spelers 'n 25-boulbeurtwedstryd gespeel. Saterdag en Sondag het hulle in T10-wedstryde meegeding, waar die top twee spanne, die Sunrisers en Crushers, in die finaal gespeel het. Die Crushers het 'n kompeterende 90 lopies in hulle 10 beurte behaal. Daniel Harmse het uitgeblink met die kolf met 37 lopies. Die Sunrisers het egter die finaal met vyf paaltjies gewen. Niklaas Mey het met 69 lopies uitgeblink.
O. 13-spanne
Die o. 13-spanne was net so kompeterend in hulle T10-wedstryde. Die vier spanne in die semifinaal was die Southern Scorpions, George Giants, Capitals en Daredevils. Die Southern Scorpions het as wenner uit die stryd getree in die finaal wat hulle teen Capitals gespeel het. Leagan Fortuin het 'n skitterende 45 lopies van 30 balle gekry. Die Southern Scorpions het met 20 lopies gewen.
Seniorspanne
Daar was drie spanne van sewe spelers elk wat in 'n T10-formaat gespeel het. Idan Balzun is die kolwer van die toernooi met 198 lopies en Caleb Mapolie is die bouler van die toernooi met agt paaltjies.
Topkolwers
• O. 11: Niklaas Mey - 361 lopies
• O. 13: Leagan Fortuin - 118 lopies
• Senior: Idan Balzun - 198 lopies
Topboulers
• O. 11: Daniel Harmse - 5 paaltjies
• O. 13: Wihandré Nel - 7 paaltjies
• Seniors: Caleb Mapolie - 8 paaltjies
Die HPFS sê hierdie geleentheid word aangebied om krieket en 'n liefde vir krieket in die Suid-Kaap te bevorder. Spelers van so ver as Joubertina en Upington het aan die toernooi deelgeneem.
Vir meer inligting oor die volgende Southern Cape Cricket Bash wat in September aangebied gaan word, skakel HPFS by 079 158 0672 of besoek die Facebook-blad, HPFS Cricket Academy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’